Ons tel koolkoppe (Colour-in)
Penny Smith
Magriet Brink

Mamma K oes al die hele week lank kool. Doobie, Maya en Duksie help mamma K elke Saterdagoggend in haar groentetuin. Vandag gaan die kinders haar help om die koolkoppe te tel en te verpak. Pappa K gaan dan die bokse kool mark toe neem om daar te verkoop.

1

Die taxi laai die kinders by die tuinhekkie af. Hulle kan die groot hoop kool sien wat naby pappa K se ou bakkie opgestapel is. "Sjoe! Dis baie koolkoppe," sê Maya terwyl sy na die kole wys. "Daar lê seker 'n duisend koolkoppe op die hoop," lag Duksie. Doobie verskil: "Nee wat! Daar is hoogstens tweehonderd."

2

Mamma K staan en wag by die hekkie. "Hallo, julle. Ek is bly om julle te sien," groet sy die kinders. "Kom ons spring aan die werk. Julle moet die koolkoppe tel en in die bokse inpak, 12 kole in elke boks. Ek het 20 bokse. Twee van julle kan elk 7 bokse pak en een van julle kan 6 bokse pak."

3

Die kinders staan om die hoop koolkoppe. Hulle praat oor verskillende maniere om die koolkoppe te tel. "Ek dink ek gaan my kole in 2's tel," sê Maya. "Ek hou daarvan om in 4's te tel," sê Duksie, "dis vinniger." "Ek gaan in 3's tel, net om anders te wees!" meen Doobie.

4

Die kinders maak gou-gou 20 bokse vol. "Baie mooi!" roep mamma K uit. "Kyk, daar is 'n klompie kole oor. My varke hou van kool. Kom ons deel dit uit aan hulle," stel sy voor. "Hoeveel koolkoppe het julle in die bokse ingepak? Hoeveel koolkoppe is daar oor?" vra sy die kinders.

5

Die volgende taak is om die prys op elke boks te skryf. Dan moet hulle pappa K help om die bokse op sy bakkie op te laai. Hulle moet die helfte van die bokse aan die een kant van die bakkie oplaai en die ander helfte aan die ander kant. Sodoende word die vrag gebalanseer.

6

"Ons is amper klaar!" sê pappa K. "Kom ons kyk: Hoeveel bokse moet ons nog aan elke kant van die bakkie oplaai om die vrag te balanseer?"

7

Gou-gou word al 20 bokse op die bakkie opgelaai. Pappa K skakel die enjin aan en ry weg mark toe. "As ek al die bokse kan verkoop," dink hy, "sal ek genoeg geld hê om die varkhok reg te maak en 'n verrassing vir die kinders te kry!"

8

Op die plaas gooi mamma K en die kinders die plante nat en hark blare bymekaar. Teen twaalfuur is hulle almal moeg. Mamma K sê vir hulle: "Dit is tyd om julle te bederf. Kan julle raai wat ek vandag vir julle gaan gee?"

9

Sy loop binnetoe om hulle verrassing te gaan haal. Die kinders wag geduldig dat sy terugkeer terwyl hulle raai wat sy dalk gaan bring. Toe sy met die paadjie afgeloop kom, staan haar voorskootsakke bol!

10

"Kom ons kyk of julle reg geraai het! Wat kry julle vandag?" Mamma K dop haar voorskootsakke om en 'n hopie appels val op die tafel uit. "Sien julle, ek was reg!" skree Duksie. Mamma K sê vir die kinders: "Onthou nou die reël. Deel regverdig! Niemand mag minder of meer as die ander kry nie."

11

Die kinders tel eers die appels in 2's. Hulle tel: 2, 4, 6, 8, 10, 12, 14, 16 en 1 appel bly oor. Daar is altesame 17 appels.

12

Dan deel hulle die appels gelykop tussen hulle. Daar is 2 appels oor. Die kinders sit die appels in hulle sakke om huis toe te neem. Hoeveel appels kry elke kind?

13

"Kom ons sny die 2 appels en deel dit dan tussen ons," stel Duksie voor. "Hoeveel dele van die appel kry ons elkeen?" vra Maya. Doobie glimlag: "Ek weet wat die antwoord is!"

14

Op daardie oomblik kom pappa K terug van die mark af. Die bakkie is leeg en pappa K glimlag. "Ek het al die kool verkoop. Nou kan ons die varkhok regmaak en vir julle die sokkerbal koop wat julle wil hê." "Hoera!" skree die kinders.

15

.

16
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Ons tel koolkoppe (Colour-in)
Author - Penny Smith
Translation - Anita Dall
Illustration - Magriet Brink
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs