Wat Vusi se Suster Gesê het
Nina Orange
Wiehan de Jager

Vroeg een oggend het Vusi se ouma hom geroep en gesê: "Vusi, neem asseblief hierdie eier na jou ouers toe. Hulle het dit nodig om 'n groot koek vir jou suster se troue te bak."

1

Op pad na sy ouers toe het Vusi twee seuns raakgeloop. Hulle was besig om vrugte te pluk. Een van die seuns het die eier uit Vusi se hand gegryp en dit na 'n boom toe geskiet. Die eier het gebreek.

2

"Wat het jy gedoen?" het Vusi geroep. "Daardie eier was vir 'n koek vir my suster se troue. Wat sal my suster sê as daar nie 'n troukoek is nie?"

3

Die seuns was baie jammer dat hulle vir Vusi geterg het. "Ons kan nie met die koek help nie, maar hier is 'n kierie vir jou suster," het een gesê. Vusi stap toe weer verder.

4

Op pad het hy twee mans ontmoet. Hulle was besig om 'n huis te bou. "Kan ons daardie sterk stok gebruik?" het een van hulle gevra. Maar die kierie was nie sterk genoeg vir bouwerk nie en het gebreek.

5

"Wat het jy gedoen?" huil Vusi. "Daardie stok was 'n trougeskenk vir my suster. Die vrugteplukkers het vir my die stok gegee omdat hulle die eier wat in die koek sou wees, gebreek het. Die koek was vir my suster se troue. Nou is daar geen eier, koek of geskenk nie. Wat gaan my suster sê?"

6

Die bouers het so sleg gevoel omdat hulle die kierie gebreek het. "Ons kan nie met die koek help nie, maar hier is 'n bondel gras vir jou suster," het een van hulle gesê. Daarna het Vusi sy reis voortgesit.

7

Langs die pad het Vusi 'n boer met 'n koei teëgekom. "Daardie gras lyk heerlik. Kan ek 'n happie kry?" het die koei gevra. Maar die gras was so lekker dat die koei alles opgeëet het!

8

"Wat het jy gedoen?" skree Vusi. "Daardie gras was 'n geskenk vir my suster. Die bouers het dit vir my gegee omdat hulle die kierie gebreek het wat ek by die vrugteplukkers gekry het. Die vrugteplukkers het die kierie vir my gegee omdat hulle die eier vir my suster se koek gebreek het. Die koek was vir my suster se troue. Wat sal my suster sê?"

9

Die koei was vreeslik jammer dat sy so gulsig was. Die boer het ingestem dat die koei saam met Vusi as geskenk vir sy suster mag gaan. Daarna het Vusi sy reis voortgesit.

10

Maar toe dit tyd word vir aandete, het die koei na die boer toe teruggehardloop. En Vusi het op sy reis verdwaal. Hy het baie laat eers by sy suster se troue aangekom. Die gaste het alreeds begin eet.

11

"Wat moet ek doen?" het Vusi geroep. "Die koei wat weggehardloop het, was 'n geskenk van die boer omdat sy koei my gras opgevreet het. Die bouers het vir my die gras gegee omdat hulle my kierie gebreek het. Die vrugteplukkers het vir my die kierie gegee omdat hulle my eier gebreek het. Die koek was vir die troue. Nou is daar geen eier, geen koek en geen geskenk nie."

12

Vusi se suster het vir 'n oomblik gedink voordat sy antwoord: "Vusi, my broer, ek gee nie regtig om vir geskenke nie. Ek gee nie eens om vir die koek nie! Ons is almal saam en ek is gelukkig. Trek nou jou deftige klere aan en kom vier hierdie spesiale dag saam met ons!"
En dit is presies wat Vusi gedoen het.

13
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Wat Vusi se Suster Gesê het
Author - Nina Orange
Translation - Nadine Langley
Illustration - Wiehan de Jager
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs