26 Letters in die Alfabet
Mimi Werna
Prawny Arts

A a

A is vir arm, agt en appel.

Appels is baie lekker. Daar is baie soorte appels. Appels help jou om gesond te bly.

1

B b

B is vir bal, bos en bees.

'n Bees bly op 'n plaas. Beeste gee vir ons vleis en lekker melk om te drink.

2

C c

C is vir Coca-Cola en Clicks.

Coca-Cola is 'n soort koeldrank. Dit is swart en baie lekker. Clicks is 'n winkel.

3

D d

D is vir deur, das en drom.

'n Mens slaan op 'n drom met jou vingers of met dromstokkies. 'n Mens kan mooi musiek maak met 'n drom.

4

E e

E is vir emmer, ek en elf.

Elf is die naam van die nommer vir 10+1. 'n Elf is ook 'n soort vis wat 'n mens in die see kry.

5

F f

F is vir foto, fiks en fiets.

'n Fiets het twee wiele. Dit is lekker om fiets te ry en dit hou 'n mens fiks.

6

G g

G is vir gogga, gom en grys.

Ek skryf met 'n grys potlood en plak my papier in my boek met gom.

7

H h

H is vir huis, hemp en hond.

'n Hond waai sy stert wanneer sy baas by die huis kom, maar hy blaf vir vreemde mense.

8

I i

I is vir impala, iglo en ink.

Ek skryf met 'n pen in my boek. Die pen het swart ink in. 'n Mens kan nie ink uitvee nie.

9

J j

J is vir jakkals, jagter en jas.

Wanneer dit baie koud is, het 'n mens 'n dik jas nodig om jou warm te hou.

10

K k

K is vir kat, ketel en knie.

Ek het my knie stukkend geval. Mamma het 'n pleister opgesit.

11

L l

L is vir lorrie, leeu en lemoen.

'n Lemoen is 'n sitrusvrug. 'n Glas vars lemoensap is baie lekker.

12

M m

M is vir mat, muis en myn.

'n Myn is waar mense diep onder die grond werk om goud, silwer of diamante te kry.

13

N n

N is vir nes, neus en nag.

Nag is wanneer dit donker is en die maan skyn.

14

O o

O is vir oond, oog en oranje.

Oranje is die naam van 'n kleur. Lemoene is oranje.

15

P p

P is vir pad, pomp en pot.

Mamma gebruik 'n pot om kos in te kook.

16

Q q

Q is die 17de letter van die alfabet.

In Afrikaans gebruik ons dit net in woorde wat uit ander tale kom. Soos quiche wat beteken: souttert wat met eiers gemaak is

17

R r

R is vir rat, rok en roos.

'n Roos is 'n mooi blom, maar dit het dorings wat jou kan steek.

18

S s

S is vir son, see en sand.

Wanneer die son skyn, is dit lekker om strand toe te gaan en in die see te swem.

19

T t

T is vir trein, tee en tak.

'n Tak is deel van 'n boom. As die tak dik genoeg is, kan 'n mens 'n swaai daaraan hang.

20

U u

U is vir uniform, uur en uil.

'n Uil is 'n roofvoël. Uile het groot oë en hulle vlieg in die nag.

21

V v

V is vir vark, veer en vuur.

Vuur het vlamme wat kan brand. Dis lekker om rondom 'n kampvuur te sit en braai.

22

W w

W is vir wind, water en wors.

Wors is gemaalde vleis wat in 'n derm gestop is. Gebraaide wors is baie lekker.

23

X x

X is vir x-straal en Xhosa.

'n Dokter neem x-strale om binne in jou lyf te sien. Xhosa is 'n taal wat in Suid-Afrika gepraat word.

24

Y y

Y is vir ys en yster.

Ys is water wat gevries het. Yster is 'n sterk metaal.

25

Z z

Z is vir zero en Zoeloe.

Zero beteken nul of niks. Zoeloe/Zulu is 'n taal wat in Suid-Afrika gepraat word.

26
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
26 Letters in die Alfabet
Author - Mimi Werna
Translation - Debbie Botes
Illustration - Prawny Arts
Language - Afrikaans
Level - First paragraphs