

Nita hang onderstebo, haar lang hare kielie die grond.
Die bome, die gras, alles is omgekeerd.
Haar voete steek in die lug.
Klein Navi loop verby.
Hy sê: "Ek het jou al voorheen hier gesien. Jy hang al weer onderstebo! Hoekom?"
Haar voete roer in die lug.
Sy probeer agter haar hare wegkruip.
"Dis m-m-m-moeilik om te p-p-p-praat," sê sy.
"Ek is nie soos die ander kinders nie. Ek pas nie in nie."
Navi neem haar hand. Hy wil haar help om te verstaan.
Hulle klim op tot by Navi se uitkykpunt.
Van hier af kan hulle baie dinge sien.
Hulle sit hoog en kyk stil na die kinders wat oral daar onder speel.
Daardie kinders is glad nie eenders nie.
Abie is rond.
Chi het sproete.
Lala is ekstra-lank.
Bambam is wild en moet vry kan rondhardloop.
Terwyl Lulu stilletjies lees.
Kyk net na Freya se woeste hare!
En Sid dra altyd 'n bril.
Kyk na my, ek is lank en maer.
En jy is jy. Jy is nie alleen nie.
Elke mens is maar 'n bietjie vreemd. Dit maak ons almal dieselfde.
Die wêreld is net een groot speletjie. Om lekker te kan saamspeel moet ons verskillend wees.
Nita voel skielik weer regop, en dit net omdat sy 'n nuwe maat gekry het.
Onderstebo hang was nie regtig lekker nie.
Nou speel sy met almal.


