Abel en sy sussie se pop
Eyobi Kitaw
Jesse Breytenbach

Daar was eendag 'n seuntjie met die naam van Abel. Hy het vir hom 'n waentjie gemaak.

Maar hy het nie 'n drywer vir die wa nie.

Hy sê vir sy sussie Meri: "My wa het 'n drywer nodig. Gee asseblief vir my jou pop. Sy kan in die waentjie sit."

1

Maar Meri sê: "Nee, ek wil self met my pop speel."

Toe Meri nie vir hom die pop wil gee nie, word Abel baie kwaad. Hy gryp die pop en trek aan haar arm.

Meri trek aan die pop se ander arm. Hulle trek en trek, en die pop se arm skeur af!

2

Meri huil en hardloop na haar ma.

"Kyk, Mamma," sê sy. "Abel het my pop se arm afgeskeur. Hy wou my pop in sy nuwe waentjie sit, maar ek wou met haar speel."

Haar ma sê: "Dit was nie mooi van Abel nie."

3

Mamma dink hoe sy Abel gaan leer om sy sussie se speelgoed uit te los.

Sy kry 'n plan.

Sy gaan na haar vriendin wat 'n dokter is en vra: "Kan jy my asseblief help?"

Die dokter sê: "Hoe kan ek jou help, my vriendin?"

4

Mamma antwoord: "My seun Abel is deesdae baie stout. Hy het sy sussie se pop se arm afgeskeur. Hy moenie sulke dinge doen nie.

"Môre gaan ek hom met die pop na jou toe stuur sodat jy die arm weer kan vaswerk."

5

"Sê asseblief vir Abel hy moet jou betaal vir jou werk. Hy het nie geld nie. Sê hy moet dan jou groot ou motor was wat altyd so stowwerig is," sê Mamma.

Haar vriendin lag en sê: "Ha-ha-ha! Dit sal hom 'n les leer!"

6

Abel se ma gaan terug huis toe. Sy vra vir Abel: "As jy siek is of seergekry het, waar gaan jy heen?"

Abel antwoord: "Wanneer ek siek is of seergekry het, moet ek dokter toe gaan."

Abel se ma sê: "Jy het die pop seergemaak, nou moet jy haar dokter toe neem."

7

"Hierdie pop het baie seergekry. My ma sê ek moet haar hiernatoe bring. Dokter, kan jy vir haar 'n nuwe arm gee?"

Die dokter sê sy sal na die pop kyk.

Sy kon uiteindelik vir die pop 'n nuwe arm maak.

8

Toe sê die dokter vir Abel: "Die pop het 'n nuwe arm. Nou moet jy my betaal. Hoeveel geld het jy?"

Abel antwoord: "Ek is jammer, Dokter. Ek het nie geld nie. Ek kan nie vir die werk betaal nie."

9

Die dokter sê: "O so! Jy het nie geld nie? My groot motor is baie vuil. Maak my motor skoon. Dis hoe jy my kan betaal."

Abel kry 'n emmer water en 'n skoon lap. Dit vat baie lank om daardie vuil motor te was.

10

Toe neem Abel die pop terug na Meri.

Sy is baie bly en sê vir Abel: "Jy is 'n gawe boetie. Dankie dat jy my pop laat regmaak het."

"Sussie, ek is jammer ek het kwaad geword en jou hartseer gemaak," sê Abel.

11

Van toe af het Abel nooit weer sy sussie se goed gevat nie. En hy probeer baie hard om nie vir haar kwaad te word nie.

Abel onthou hoe lank dit hom gevat het om die dokter se groot, vuil motor te was.

Hy besluit daarom dis nie die moeite werd om kwaad te word en goed te breek nie.

12
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Abel en sy sussie se pop
Author - Eyobi Kitaw
Translation - Fanie Viljoen, Magdaleen Du Toit
Illustration - Jesse Breytenbach
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs