

Wayan het in 'n klein dorpie by die see gewoon.
Die mense daar het geglo dat jy terugkeer na die see wanneer jy sterf.
Vir hulle was die see 'n spesiale plek waar die voorouers woon.
Wayan se pa en oupa was vissermanne. Meeste mans in die dorp was vissermanne, van toeka af.
Elke oggend met sonsopkoms het die mans in jukung-bote gaan visvang. Elke aand met sononder het hulle teruggekom met bote vol vis.
Wayan het geleer om te hengel net toe alles vir die vissers verander het.
Daar was minder visse, en hulle was altyd klein.
Soms het die bote leeg teruggekom, al was hulle die hele dag op see.
Die strande het ook verander. Nou was hulle besoedel met plastiekrommel wat op die sand gegooi is.
Sodra die gety uitgegaan het, het die plastiek weggespoel na die see.
Mense in die dorp het geleidelik begin siek word. Hulle kon nie gesond word nie.
Een dag, terwyl Wayan visgevang het, was daar 'n storm. Hy het oorboord geval.
'n Seeskilpad het hom gered. "Ek is Bintang. Ek sal jou help - klim op my rug", sê die seeskilpad.
"Miskien kan jy my help. My oupa is baie siek en niemand weet wat om te doen nie."
Bintang het Wayan na sy oupa geneem. Die ou skilpad was baie siek en het moeilik asemgehaal.
Wayan sien iets vreemds by oupa se neus uitsteek. Hy het gesê: "Ek sal hierdie ding probeer uithaal, maar dit sal seermaak!"
Wayan trek en trek. Oupa het gehuil en gehuil.
Uiteindelik het die ding uitgekom. Dit was 'n plastiekstrooi! Die strooi het in oupa se neus vasgesteek.
Oupa het makliker begin asemhaal. Bintang het vir Wayan gesê: "Ek sal jou na die ander neem."
Hulle is Skilpad Hospitaal toe. "Wat het gebeur met hierdie seeskilpaaie?" vra Wayan.
"Hulle het plastieksakke geëet, dinkende dit was kos. Ons skilpaaie kan nie baie goed sien nie. Vir ons lyk 'n plastieksak soos 'n jellievis," het Bintang verduidelik.
Hy vra: "Ons het jou hulp nodig. Vra asseblief vir mense dat hulle nie plastiek op die grond of in die water moet gooi nie."
Wayan het belowe dat hy sy bes sou doen om te help. Bintang het hom teruggenem strand toe en dan weggeswem.
Wayan het besef dat die dorpenaars die see en strande moet skoonmaak.
Hy hardloop na die ouderlinge om hulle van die skilpaaie te vertel.
Die hoof van die dorp het 'n vergadering gehou en almal het bymekaargekom om Wayan se verhaal te hoor.
Die dorpenaars het die probleem lank bespreek. Uiteindelik het hulle saamgestem om belangrike aksies te neem om hul oseaan, diere en plante te red.
Mense het besluit op 'n verbod op plastiekstrooitjies, plastiekbottels en plastieksakke.
Hulle het gestem om hul vullis net in die asblikke te gooi en om op te hou om plastiek te verbrand en te begrawe.
Hulle het besluit om op te hou visvang totdat die see skoon was.
Uiteindelik het die see en strande teruggekeer soos hulle was voordat Wayan gebore is.
Die water was skoon en vol lewe. Mense was nie meer siek van siek vis eet nie.
Wayan het geleer dat ons almal ly as die see besoedel is. As die see gesond is, kan ons almal gesond wees.

