Mnr. Mkhize se kwarte
Lorato Trok
Marleen Visser

Dis amper tyd vir pouse by Siyafunda-laerskool.

Die twee eienaars van die spazawinkels by die skool is besig om middagete te berei om kos aan die honger kinders te verkoop.

1

In mnr. Motaung se winkel is die brood gesny en gereed om kotas mee te maak.

Mnr. Motaung sny versigtig die sagte middel van elke kwart sny brood uit. Hy sit dan polonie en aartappelskyfies binne-in die uitgesnyde ruimte.

Hy sit ook twee lepels van sy vrou se tuisgemaakte atjar binne-in elke kota. Hy spog graag daarmee dat sy kotas binne-in en bo-op atjar het!

2

In mnr. Mkhize se winkel is die aartappelskyfies amper gereed, maar mnr. Mkhize sny nog die brood vir kotas.

Hy is bekommerd, want sy winkel vaar nie te goed nie. "Dit het goed begin," dink mnr. Mkhize, "maar nou word my klante al minder. Ten minste verminder ek van my koste omdat ek vyf kotas uit 'n brood kry."

3

Jabu en Zodwa koop hulle middagete. Zodwa koop by mnr. Mkhize.

Jabu koop by mnr. Motaung. Hy glo dat mnr. Motaung se kota meer skyfies en atjar as mnr. Mkhize se kota het.

4

Die tou by mnr. Motaung se winkel is altyd langer.

Zodwa wag vir Jabu. Dan sit die maats saam in die koelte om hul kotas te eet.

5

Zodwa merk iets op wat haar laat staar en laat frons.

"Waarna kyk jy so?" vra Jabu. "Na jou kota! Dit lyk groter as myne," sê Zodwa.

6

Hulle albei beskou hulle kotas noukeurig. Sowaar, Jabu s'n is groter.

"Iets is hier nie reg nie," sê Zodwa. "Ek wonder of dit die rede is dat mnr. Mkhize se winkel nie meer besig is nie."

Jabu dink 'n oomblik daaroor na en antwoord dan: "Wel, ek het gehoor dat party kinders gesien het hoe mnr. Mkhize sy brood in vyf snye vir kotas sny!"

7

Nomsa hoor toevallig hoe Jabu en Zodwa praat en sy is nuuskierig. Sy vra hulle wat verkeerd is daarmee om die brood in vyf snye vir kotas te sny.

Zodwa en Jabu antwoord gelyktydig: '''n Kota is 'n kwart van 'n brood!" Nomsa lyk steeds verward. Zodwa verduidelik: "Die brood moet in vier gelyke stukke gesny word. Anders is dit nie kwarte nie."

8

Nomsa is kwaad, want sy koop ook haar kota by mnr. Mkhize. "Hy steel dus ons brood!" sê sy met 'n harde stem.

Zodwa besluit om na mnr. Mkhize se winkel terug te gaan om te kla. Sy stap vasberade terug terwyl sy haar kota in die lug hou.

Nomsa kom vinnig agterna. Jabu sug en staan op om sy maats te volg.

9

Mnr. Mkhize is teleurgesteld toe hy sien dat die kinders nie nuwe klante is nie. "O, hallo, kinders," mompel hy, "wat kan ek vir julle doen?"

"Mnr. Mkhize, ek het jou vir 'n kwart brood gevra en ek het vir 'n kwart betaal. Maar hierdie sny is nie 'n kwart brood nie," sê Zodwa en wys na haar kota. "Ek wil 'n kwart kota hê, of ek wil my geld terughê," voeg sy ferm by.

10

"Is dit waar, mnr. Mkhize? Jy is besig om ons te bedrieg!" roep Nomsa uit.

'n Paar kinders het hulle winkel toe gevolg en luister nou na die woeste beskuldigings.

Mnr. Mkhize swaai sy hande wild rond. "Wat sê julle daar van my?" protesteer hy. "Dis nie hoe ek is nie! Ek wil hê julle moet nou my winkel verlaat!"

11

Zodwa sê dan stilweg: "Ons gaan vir almal vertel wat jy doen. Dit gaan soos 'n veldbrand oor die hele skool versprei. Jy sal jou winkel moet toemaak. Niemand sal meer by jou kom koop nie!"

Mnr. Mkhize beskou die drie kinders wat voor hom staan. Toe kyk hy na die groeiende skare buite sy winkel.

12

"Goed," sê hy uiteindelik, "ek sal jou geld vir jou teruggee."

"En belowe ook dat jy elke brood in kwarte sal sny vir jou kotas," dring Jabu daarop aan.

Mnr. Mkhize belowe hy sal. Toe maak hy keel skoon en sê kliphard sodat almal kan hoor: "Ek belowe ook dat ek meer atjar en meer skyfies by my kotas sal bysit."

13

Mnr. Mkhize het toe werklik ekstra skyfies en atjar by sy kotas bygevoeg.

Sommer gou kom koop meer kinders by hom, en sy winkel begin goed vaar. Hy kan selfs iemand aanstel om hom te help.

14

Daar bestaan nou gesonde mededinging tussen mnr. Mkhize en mnr. Motaung, en almal is tevrede.

15

16
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Mnr. Mkhize se kwarte
Author - Lorato Trok
Translation - Anita Dall
Illustration - Marleen Visser
Language - Afrikaans
Level - Read aloud