Abike se dag
Ursula Nafula
Catherine Groenewald

Abike lê op haar mat en luister terwyl haar ma een van haar mooiste stories vertel.

Dis ʼn storie oor die vroue van die dorpie wat bekend is vir die mooi matte en mandjies wat hulle maak.

Die mat waarvoor Abike die liefste is, is 'n geskenk van haar ouma wat sy op haar tiende verjaarsdag gekry het.

1

Toe Abike opstaan, begin haar ma die mat wegpak, maar Abike keer haar. "Wag, Mamma, kom ons kyk eers na al die kleure en patrone van die mat."

Terwyl haar ma die mat vashou, noem Abike die kleure van bo na onder, ry vir ry: "Pienk, pienk, groen, groen, blou, blou, pienk, pienk, groen, groen."

Kyk na die prentjie. Kan jy sien waar die patrone op die mat verander?

2

Op die oopgespreide mat sien Abike reghoeke en vierkante. "Ek weet van 'n maklike manier om uit te vind hoeveel blokkies daar altesaam op die mat is."

Abike verduidelik: "'n Mens tel nie al die blokkies op die hele mat nie, maar net die aantal blokkies in een ry. Omdat al die rye dieselfde aantal blokkies het, vermenigvuldig 'n mens dan bloot die aantal blokkies in een ry met die aantal rye."

3

Abike het ook 'n kleiner matjie wat sy gebruik wanneer sy buite op die grond sit.

Hierdie matjie se blokkies is almal reghoeke. Hoeveel reghoeke maak Abike se lyf toe wanneer sy op die matjie sit? Hoeveel reghoeke bly op die res van die mat oop?

Kan jy, soos Abike, bereken hoeveel reghoeke hierdie matjie het?

4

Een oggend besluit Abike om vir haar ouma te gaan kuier. Toe sy by die fontein verbyloop, sien sy hoe die vroue van die dorpie water skep om huis toe te vat. Hulle balanseer die emmers water op hulle koppe terwyl hulle terugstap.

Abike wonder hoeveel liter water in elke emmer is. Wat dink jy?

5

"Wat 'n wonderlike verrassing, Abike," sê haar ouma toe sy daar aankom. "Kom kyk! Ek het vir jou 'n nuwe mandjie gemaak. Hou jy hiervan?" vra haar ouma.

"Ek hou baie van die kleure, Ouma," sê Abike, "maar die patrone het nogal skerp hoeke." Hoe kan 'n mens die patrone op die mandjie oorteken?

Wat dink jy, is die patrone vierkante, reghoeke of dalk ander vorms?

6

Uiteindelik is dit weer tyd om terug te gaan huis toe. Op pad terug verdwaal Abike. Sy weet nie waar sy is nie en besluit om onder 'n boom te gaan sit en rus.

Abike verwonder haar aan die blare wat liggies ritsel in die wind. Die skaduwees maak allerlei patrone. Na 'n rukkie raak sy vas aan die slaap.

7

Toe Abike na 'n ruk weer wakker word, voel sy bang. Sy wil graag terug wees by haar ma en op haar mooi mat lê.

Skielik kom sit 'n klein blou voëltjie in die boom. Abike is baie verbaas toe die voëltjie praat. "Hallo, moenie bekommerd wees nie. Ek kan jou help om weer by jou huis uit te kom," tjirp die voëltjie. "Kom, volg my."

8

Abike volg die blou voëltjie maklik, totdat hulle by ʼn vurk in die pad kom. Die voetpaadjie verdeel in twee verskillende rigtings, een na links en een na regs. Watter paadjie moet sy volg?

Abike is verbaas toe sy sien dat die blou voëltjie 'n stukkie van haar lieflingsmat in sy bekkie het. Die voëltjie vlieg na die regterkantse paadjie, laat val die stukkie mat en vlieg weg.

9

Abike volg die paadjie teen die heuwel af. Na 'n rukkie hoor sy haar dorpie se mense lag en sing. Sy is baie verlig om weer veilig tuis te wees.

10

Abike se ma rol haar lieflingsmat op die vloer oop en gee vir haar 'n bakkie kos om te eet.

Abike tel al die blokkies weer net om seker te maak dat almal nog daar is. Terwyl sy tel, is sy seker dat sy kan sien waar 'n stukkie van die mat gevat is, maar toe weer teruggesit is.

Het sy gedroom, wonder sy? Nee, die klein blou voëltjie was tog nie 'n droom nie!

11
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Abike se dag
Author - Ursula Nafula
Translation - Andries du Plessis
Illustration - Catherine Groenewald
Language - Afrikaans
Level - Read aloud