

Daar was eendag 'n meisie genaamd Tselane. Na haar pa se dood het sy alleen by haar ma gebly. Op 'n dag besluit haar ma dat hulle 'n nuwe lewe in 'n ander dorpie moet begin. Tselane het gehuil. Sy wou nie haar ou dorpie verlaat nie.
Haar ma was bang om haar dogter alleen te laat, want daar het reuse in die grotte naby die dorpie gewoon. Maar Tselane het so baie gehuil dat haar ma uiteindelik ingestem het dat sy mag bly.
Tselane se ma het belowe om elke dag vir haar kos te bring. Sy het gesê: "Ek sal 'n liedjie sing sodat jy weet dat dit ek is. Moenie die deur vir enige iemand anders oopmaak nie, my kind." Sy het die liedjie gesing: "Tselane, my kind! Tselane, my kind! Kom uit en eet jou pap! Kom uit en eet jou pap!"
Die volgende oggend kom Tselane se ma met kos na die huis toe. Sy het haar spesiale liedjie gesing. Tselane het die deur oopgemaak en haar ma se lekker kos gevat. Haar ma het haar gesoen en teruggegaan na haar nuwe huis toe.
'n Reus het in die bosse weggekruip en vir Tselane en haar ma dopgehou en na hulle geluister! Nadat Tselane daardie aand haar lig doodblaas, het sy 'n diep stem haar ma se liedjie hoor sing. "Tselane, my kind! Kom uit en eet jou pap!" het die reus gesing.
"Gaan weg! Jy is nie my ma nie! Jy is 'n reus!" het Tselane geroep.
Die reus het teleurgesteld na sy grot toe weggestap. Tselane se ma het elke oggend en aand vir haar kos gebring. Die reus het ook gekom, maar Tselane het hom weggestuur. Sy het elke keer sy diep stem herken as hy haar ma se liedjie sing.
Op 'n dag kry die reus 'n idee: "Ek kan my stem verander sodat dit soos Tselane se ma s'n klink!" het hy vir homself gesê. Hy het 'n vuur gemaak en 'n gladde, ronde klippie in die vlamme gegooi. Toe die klippie rooiwarm was, het hy dit uit die vuur gehaal en ingesluk! "Kudutlu!" het die steen gemaak soos dit in die reus se keel afglip.
Die reus het begin sing. Hy was vreeslik bly toe hy hoor sy stem klink net so mooi en soet soos Tselane se ma s'n! Vroeg die volgende oggend het die reus na Tselane se huis toe gestap. By die deur het hy gesing: "Tselane, my kind! Kom uit en eet jou pap!"
Tselane was baie bly om haar ma se stem te hoor. Sy het die deur oopgemaak. Die reus het reg voor haar gestaan! Sy het die deur probeer toemaak, maar die reus was te vinnig. Hy het Tselane gegryp en haar in 'n sak gegooi.
Die gelukkige reus het na sy grot toe teruggeloop. "Wat 'n wonderlike dag. As ek nou net 'n bietjie tradisionele bier gehad het, sou dit my aandete verder opkikker," het hy vir homself gesê.
'n Rukkie later het Tselane se ma soos gewoonlik haar dogter se kos gebring. Sy het haar liedjie gesing, maar Tselane het nie uitgekom nie. Weer het sy haar liedjie gesing, en steeds het Tselane nie uitgekom nie. Na die derde keer wat sy gesing het, het sy die deur oopgeskop. Tselane was nêrens te siene nie. Haar ma het besef wat gebeur het. Gou het sy 'n plan gemaak.
Sy het 'n bietjie bier in 'n kalbas gegooi, dit op haar kop gesit en na die grotte toe geloop. "Goeienaand, reus!" het Tselane se ma geroep. Die reus het die wonderlike geur van die tradisionele bier geruik en die deur oopgemaak. Tselane se ma het gesê: "Ek het net hier verbygeloop toe ek jou hoor sing. Ek is op pad na 'n partytjie in 'n ander dorpie."
"Kom ek gee vir jou 'n bietjie van my bier voordat ek verder loop," het Tselane se ma gesê. Die reus sou nie 'n kans laat verbygaan om tradisionele bier te drink nie! Hy het Tselane se ma die grot binnegenooi. Met een groot sluk het die reus die bier gedrink. Tselane se ma het hom meer en meer – en nog meer – gegee totdat die kalbas leeg was. Die reus was gou vreeslik dronk. Hy het omgeval en op die grond aan die slaap geraak.
Toe Tselane se ma hoor hoe die reus snork, het sy die sak wat in die grot lê, oopgemaak. Tselane het uit die sak gespring. Hulle het vinnig huis toe gehardloop. Van daardie dag af het Tselane by haar ma in die nuwe dorpie gebly. Hulle was baie gelukkig en die reuse het hulle nooit weer gepla nie.

