

Eens op 'n tyd was Arend en Hen goeie maats. Die twee het van soggens tot saans saam gekuier en geklets. Arend se kuikens kon nie wag om by Hen se kuikens te gaan speel nie.
Op 'n dag kom Hen by Arend aangestap. "Ai, vriendin," sê sy, "ek het 'n groot guns om jou te vra. Haan se slaapbroek het geskeur. Hy is sommer knorrig daaroor. Dit is sy gunsteling slaapbroek. Ek wil dit regmaak, maar ek het nie 'n naald nie. Kan ek asseblief jou naald leen?" Arend knik. "Natuurlik," sê sy, "maar pas dit asseblief tog mooi op. Die naald is 'n erfstuk. Ek het dit by my ouma gekry." "Al te seker, vriendin," sê Hen en vat die blink naald. "Ek bring dit môre terug."
Hen stap daar weg om haar man se broek te gaan regmaak. Die volgende oggend wil Hen oudergewoonte vir Arend gaan kuier. Maar o, aarde – Arend se naald is weg! Benoud roep Hen haar kuikens bymekaar. "Het een van julle Arend se naald gesien?" vra sy. "Nee, Mamma!" piep die kuikens. "Help my soek!" sê Hen.
Hen en haar kuikens soek oral. Onder elke bos. Agter elke graspol. In elke hoendernes. Maar Arend se naald is weg.
Arend sit heeldag en wag dat Hen moet kom kuier. Teen skemertyd is sy sommer vies. Sy vlieg tot by die plaaswerf. "Naand, vriendin," groet sy vir Hen. "Waarom het jy nie vandag by my kom kuier nie?" "Ek. Ek was baie besig," sê Hen.
"En waar is my naald wat jy geleen het?" vra Arend. Hen sluk. "Ai, Arend. Ek is jammer. Jou naald is weg." "Weg?" vra Arend kwaai. "Moenie bekommerd wees nie," sê Hen vinnig. "Ek en my kuikens sal dit kry. Dit moet hier iewers wees."
Arend is nou baie kwaad. "Ek kan nie glo jy het my naald laat wegraak nie," sê sy. "Die naald wat ek by my ouma gekry het. Jy beter dit soek. As jy teen môre nie my naald gekry het nie, sal ek een van jou kuikens kom vang." Die volgende oggend het Haan skaars gekraai, toe roep Hen haar kuikens bymekaar. "Kinders, julle moet help soek," sê sy. "Ons gaan hierdie hele plaaswerf vol skrop. Arend se naald moet hier iewers wees."
Kyk maar mooi as jy weer 'n hen met kuikens sien. Hulle skrop tot vandag toe nog in die stof rond op soek na Arend se naald. En as Hen 'n arend in die lug gewaar, kloek sy benoud, "Gou, kuikens, kom kruip hier onder my vlerk weg. As Arend julle sien, sal sy julle vang. Sy is nog steeds vies oor haar ouma se naald."

