Optelgoed
Fanie Viljoen
Stephen Wallace

"Jippie!" roep Zonke toe die skoolklok lui. Hy kan uiteindelik huis toe gaan. Hy wil vanmiddag sokker speel saam met die ander ouens. "Hei! Kyk waar jy loop," sê iemand skielik voor hom. Hy het nie vir Bheka gesien nie. Bheka grom vir hom.

1

"Skies," sê Zonke vinnig. Hy wil om Bheka loop. Maar die ou stamp skielik aan hom. Zonke struikel. Bheka lag. "Is jou voete te groot dat jy so val?" spot Bheka. Vies kom Zonke regop. 'n Meisie, Thandi, help hom. "Dankie," sê Zonke. "Dis 'n plesier," sê Thandi. "Ek het alles gesien. Bheka is 'n regte boelie."

2

Zonke hardloop huis toe. Dis nogal warm. Gelukkig is die huis nie ver nie. Skielik vang sy oog iets langs die pad. Hy stop. Wat is dit? Dis soos groot soos sy palm. Dis bruin. En dis van leer gemaak.

3

Dis 'n beursie!Zonke kan sy geluk nie glo nie. Hy loer vinnig in die beursie. Sjoe, daar is geld in.

4

Zonke se hart klop vinniger. Dan druk hy die beursie in sy sak. Hy kyk gou of iemand hom gesien het. Ja! Daar kom iemand aan. Dis Bheka. Hy is net 'n paar treë agter Zonke.

5

Zonke loop vinnig verder. Hy hoop nie Bheka het hom gesien nie. Hy wil nie weer oor sy skouer kyk nie. Die beursie is veilig in sy sak. Hy sal dit by die huis uithaal en kyk hoeveel geld daarin is.

6

Zonke sit sy tas in die huis. Dan stap hy na die koelteboom langs die huis. Daar haal hy die beursie versigtig uit. Sy hart klop weer vinniger. Hy tel die note. Vyftig. Honderd. Honderd en vyftig. Tweehonderd Rand! Hy is skatryk. Maar dan hoor hy skielik weer 'n bekende stem. "Wat steek jy so weg?" Dis Bheka!

7

 Zonke hou die beursie agter sy rug. "Dis te laat. Ek het gesien jy tel iets op," sê Bheka. "Dis hoekom ek kom kyk het." Bheka ruk aan Zonke se arm. Sy oë rek toe hy die beursie sien. Hy vat dit. "Wow! Dis nou lekker. Gaan jy dit hou?" vra Bheka.

8

"Ek. Ek weet nog nie," stotter Zonke. Bheka tel ook die geld. "Jy weet wat hulle sê: optelgoed is vatgoed." Bheka fluit. "Jy moet dit beslis hou. As ek dit opgetel het, sou ek dit hou." "Maar iemand het dit verloor," sê Zonke. Bheka lag. "Dit maak nie saak nie. Hulle was nalatig. Dis hoekom die geld nou joune is."

9

"Ek moet nog eers daaroor dink," sê Zonke. "Jy hoef nie te dink nie," sê Bheka. "Ek sê jou sommer wat jy moet doen. HOU DIE GELD. Gaan koop vir jou nuwe skoene. Of 'n sokkerbal." "Nee!" sê 'n meisie se stem dan. Dis Thandi van die skool. "Zonke, daardie geld is nie joune nie. Jy mag dit nie hou nie."

10

"Ag, wat weet jy, Thandi?" vra Bheka. Hy trek sy gesig. "Jy wil jou net kom slim hou. Zonke hoef dit nie terug te gee nie." Zonke staan en luister na die twee. Hy weet nie wat hy moet doen nie. Hy sal graag die geld wil hou. Maar Thandi is dalk reg. 'n Mens mag nie goed vat wat nie aan jou behoort nie. Selfs al tel jy dit op. Bheka kom staan skielik reg voor hom. Hy vou sy arms. "So, wat gaan jy doen, ou Zonke? Gaan jy die geld hou? Of gaan jy die eienaar soek?" Zonke dink en dink.

11

"Ek gaan dit teruggee," sê Zonke skielik hard. Thandi glimlag. "Dis die regte ding om te doen. Jy sal sien." Bheka skud net sy kop. Hy stop die beursie terug in Zonke se hand. "Jy is 'n lafaard," sê hy en loop weg. "Jy is nie," sê Thandi sag vir Zonke. "As jy die beursie sou hou, sal jy net so lelik soos Bheka wees." Zonke glimlag. Hy is bly sy het hom gehelp om die regte ding te doen. "Hoe gaan ons uitvind wie se geld dit is?" vra hy.

12

Thandi kyk in die beursie. Sy haal 'n bankkaart ook uit. Gugu Dube staan op die kaart.  Die naam klink bekend vir Zonke. Thandi haal nog iets uit die beursie. Dis 'n klein foto van Gugu en haar kinders. Nou weet Zonke wie dit is. "Sy bly hier naby. Kom saam! Ons gaan gee die beursie gou terug."

13

Zonke en Thandi hardloop saam in die stofstraat af. Tannie Gugu se deur staan oop. Hulle klop. Gou kom iemand deur toe. Dis tannie Gugu. Foeitog, dit lyk of sy huil.

14

Zonke voel sleg omdat die tannie huil. Maar dan haal hy die beursie uit sy sak. Dadelik verander tannie Gugu se hartseer gesig. Sy lag skielik hardop. "My beursie!" roep sy. "Ek kan dit nie glo nie." Sy kyk na die geld aan die binnekant. "En al die geld is nog hier. Ek is so bly. Ek moes gaan kos koop. Maar toe verloor ek die beursie. Ek het gedink ons gaan die hele week honger bly." Sy soen sommer vir Zonke en Thandi op die voorkop. Toe maak sy 'n blye dansie.

15

Uiteindelik stap Zonke en Thandi terug huis toe. Zonke is baie bly hy het die eerbare ding gedoen. Thandi is reg. As hy die beursie sou hou, sou hy net so lelik soos Bheka wees. Maar vandag voel hy sommer soos 'n held!

16
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Optelgoed
Author - Fanie Viljoen
Translation - Regina Malan
Illustration - Stephen Wallace
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs