Katitu Momambo, die slim dogtertjie
Traditional San story
Manyeka Arts Trust

Eendag, lank gelede het daar drie meisies in 'n dorpie in die Kalahari-woestyn gewoon. Katitu Momambo was die jongste van die drie. Sy was klein, maar slim en wys. Die drie meisies het in die veld kos en hout gaan versamel. Klein Katitu het agterna gehardloop, maar die susters het haar teruggestuur huis toe. "Gaan terug Katitu! Jy is te klein om saam met ons te gaan. Bly by die huis!" sê hulle. Katitu het haar nie aan hulle gesteur nie. Sy het hulle van 'n afstand af gevolg.

1

Toe hulle haar opmerk, was hulle te ver van die huis af om haar terug te stuur. Daarom het sy by hulle aangesluit. Terwyl sy agter hulle aanloop, het Katitu 'n stuk hout begin kerf. Sy het vir haar 'n boog en baie pyle gemaak. Die meisies het geloop en geloop en geloop totdat die son oor die horison van die Kalahari gesak het. Hulle het verdwaal. Die meisies het in 'n verlate dorpie 'n hut gevind waarin hulle die nag kon oorslaap.

2

'n Ou vrou het langs die hut gesit. Klein Katitu het na haar gestap en haar gegroet. "O!" antwoord die ou vrou. "Dit is die dorp van die Groot Slang. Hy bly in 'n groot gat in die beeskraal. Wanneer mense kom om die koeie te melk, vreet hy hulle op! Hy sal in die nag wanneer jy slaap na jou hut gaan en jou daar doodmaak!"

3

Wyse klein Katitu het nie geskrik nie. Sy het vir die ou vrou 'n harde beesvel gevra sodat sy die ingang van die hut waarin hulle slaap, kon toemaak. "As die wind begin waai," het sy vir haar susters gesê, "moet julle my wakker maak." Toe die wind begin waai, het hulle Katitu wakker gemaak en toe gaan slaap hulle. Katitu het die harde beesvel teen die ingang vasgemaak en 'n klein gaatjie in die middel gemaak vir haar boog en pyle."

4

"Hai, gom-gom, hai gom-gom, waar is hulle?" het die Groot Slang gesing. Die slim klein meisietjie het hom met 'n liedjie geantwoord: "Hier is hulle, hier is hulle!" Die Groot Slang seil haastig teen die harde beesvel by die ingang van die hut op, maar Katitu skiet 'n pyl deur die gat in die vel. Ja, die klein dogtertjie het die Groot Slang doodgemaak.

5

Daarna maak Katitu die ouer meisies wakker. "Sussie, sussie, sussie," fluister sy, "Word wakker, word wakker, staan op!"

6

Toe die ouer meisies opstaan, sien hulle die slang daar lê. "Kom, ons moet die slang terugneem na sy gat," skree Katitu. Hulle het hom opgerol en opgerol en hom teruggerol tot in sy gat. "Maak gou! Ons moet hardloop!" Die meisies het gehardloop en gehardloop.

7

Die volgende oggend vra die Groot Slang se vrou sy kinders om na hom te gaan soek. Toe sy kinders hom dood in sy gat aantref, skree hulle: "Ons pa is dood! Ons moet daardie meisies vinnig agternasit!" Al die slang se kinders sit die meisies agterna. Katitu beveel haar susters om in bome te verander. Toe die slange by die plek aankom waar hulle die meisies gesien het, is daar net bome. Die slange is moeg en raak onder die bome aan die slaap. Toe hulle aan die slaap is, het die meisies terugverander in mense en verder gehardloop.

8

Die meisies het aanhou hardloop en was moeg en dors. Uiteindelik sien hulle 'n watergat! Geeneen van die ouer susters wou water uit die diep put skep nie. Hulle vra Katitu om in te klim aangesien sy die kleinste is."Sal julle my uit die put help as ek inklim?" vra Katitu. "Ja!" antwoord hulle, "ons sal jou help." Katitu klim in die put en skep water vir haar susters.

9

Al die meisies het water gedrink en toe weggeloop. Hulle los Katitu in die diep put en loop huis toe. Later daardie aand kom die olifante om water te drink. Die eerste een drink water en stap weg. Nog een drink water en stap weg. Die laaste een drink water en sluk Katitu saam met die water in. 'n Paar druppels van Katitu se bloed val op die riete wat teenaan die watergat groei.

10

Katitu se susters kom huilend by die huis aan, en vertel vir die familie dat Katitu weggeraak het. Almal begin soek. Katitu se klein boetie en sy maat begin ook soek. Hulle raak baie moeg en gaan rus langs die watergat. Hulle sny van die riete om fluite te maak. Toe Katitu se boetie op sy fluit speel, sing die fluit: "Is dit my broer wat my speel, wat my speel? Die ander meisies het my verlaat, verlaat en die olifant het my ingesluk, ingesluk!" Die seun hardloop huis toe en gee die riet vir sy pa, wat daarop speel. Weer sing die riet: "Is dit my pa wat my speel, wat my speel? Die ander meisies het my verlaat, verlaat en die olifant het my ingesluk, ingesluk!" Die pa gee

11

Katitu se pa roep die jong manne van die dorpie en beveel hulle om die spore van die olifante te volg om Katitu te vind. Die jong manne vertrek haastig. Hulle kry die eerste groep olifante en vra: "Olifante, olifante, het julle die een wat die meisie ingesluk het, gesien?"

"!a plaf! a plaf! Ons draf liggies. Ons is so lig, ons dra niks!" antwoord die olifante en stap verby.

12

Die jong manne ontmoet 'n ou olifant in die bos en vra: "Ou olifant, olifant, het jy dalk die een gesien wat die meisie ingesluk het?"

13

Die ou olifant sing:
"!aplaf !aplaf! Ek draf liggies. Ek is so lig, ek dra niks!" Maar nou hoor die jong mans die stemmetjie in die maag van die olifant. "Sny hom oop! Sny hom aan sy linkerkant, want ek sit aan sy linkerkant!" sê die stem.

14

Hulle hou die ou olifant vas en sny sy maag oop. Daar lê klein Katitu binne! Die jong mans tel haar uit en dra haar huis toe. Katitu word deur almal as 'n heldin verwelkom. Dit is die verhaal van Katitu Momambo, die wyse klein dogtertjie wat haar susters van die Groot Slang gered het, hulle verlos het van die kinders van die slang en (met die hulp van haar klein boetie) haarself uit die ingewande van die olifant gered het. Natuurlik is haar susters gestraf.

15

Aantekening oor die storie: Die Ju | 'hoan-storieverteller Nxisae Magdaline Nxao het in 2005 in Dkar, Botswana, 'n kort weergawe van hierdie storie vertel (Winberg 2009). In 1993 het Sigrid Schmidt 'n ander weergawe deur Paulina Oxoros in die noorde van Namibië aangeteken (Schmidt 2007: 59). Hierdie spesifieke weergawe, gebaseer op die opnames van Nxao en Schmidt, is in 2013 deur Marlene Winberg oorvertel by die Cave to Cave storievertelprojek van die Europese Unie in Spanje.

16

Die 'slim dogtertjie' is 'n bekende storietipe waar 'n kwesbare jong meisie (of jong seun), die lewens van ander red deur die gebruik van slim planne en die krag van woorde, eerder as bonatuurlike maniere om probleme op te los. Die illustrasies in die storie kom van storieborde deur Marlene Winberg, digitaal geïnterpreteer deur Satsiri Winberg, en is manipulasies van skilderye deur San-kunstenaars. Die verhaal is verder in Afrikaans vertaal deur Ansa Janse van Vuuren, ʼn student aan die Universiteit van Pretoria.

17
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Katitu Momambo, die slim dogtertjie
Author - Traditional San story
Translation - Ansa Janse van Vuuren
Illustration - Manyeka Arts Trust
Language - Afrikaans
Level - Read aloud