Hoe die nag na Opio se dorp gekom het
Robert Ekuka
Wiehan de Jager

Lank gelede het dit nooit nag geword in Opio se dorpie nie. Die mense het gaan slaap as hulle moeg was en het gewerk as hulle wakker was.

1

Op ʼn dag het Opio met sy honde gaan jag. Na 'n rukkie het sy honde 'n bok begin jaag. Opio het hulle agternagesit en ure lank na hulle gesoek. Elke keer as hy moeg word, rus hy. Dan begin hy weer loop. Maar hy kry nie sy honde nie.

2

Ná baie dae kom hy by ʼn dorpie. Hy stap na een van die huise en sê vir die man: "Ek het baie lank 'n bok gejaag en ek is baie moeg. Ek wil ʼn bietjie rus." Die man sê: "Kom sit hier en rus. Wil jy bier hê?" Opio was baie dors en drink van die bier. Toe raak hy aan die slaap.

3

Toe hy wakker word, kan hy nie sien nie. Hy knip sy oë. "Jy het my iets slegs gegee om te drink," sê hy aan die man. "Ek kan nie behoorlik sien nie!" "Daar is niks verkeerd met jou nie," sê die man. "Dit is nou nag. Het jy nog nooit die nag gesien nie? Wanneer die dag weggaan, kom die nag."

4

Opio het baie vrae gevra oor die nag. Hy begin baie van die nag hou. Hy en sy nuwe vriend gesels tot die volgende oggend. Hy bly vir nog 'n dag sodat hy weer die nag kan sien.

5

Die volgende oggend vra hy sy vriend: "Hoe kan ek die nag na my eie dorp toe vat? Ek wil vir my mense die nag gaan wys." "Wanneer dit begin donker word vanaand, loop jy na jou dorp toe. As jy reguit vorentoe kyk, sal die nag jou volg, maar jy moenie terugkyk nie. As jy terugkyk, sal die nag weggaan."

6

Opio maak soos sy vriend gesê het. Daardie aand begin hy loop in die rigting van sy dorp. Hy voel die donker nag agter hom as hy stap. Hy wil omkyk, maar hy doen dit nie.

7

Toe hy by sy dorpie aankom, is al die mense bang. "Watter siekte het jy hier aangebring, Opio?" vra hulle. "Wat is die donker ding wat agter jou aanloop?" Opio sê: "My vriende, hierdie donker ding word nag genoem. Julle is nou net so bang soos ek was."

8

"Maar julle sal leer om van die nag te hou. Wanneer die lig kom, kan ons werk, en wanneer die nag kom, kan ons rus," verduidelik Opio.

9

En dit is hoe die nag na Opio se dorpie gekom het.

10
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Hoe die nag na Opio se dorp gekom het
Author - Robert Ekuka
Translation - Erin Armstrong
Illustration - Wiehan de Jager
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs