Dima en Uil
Traditional San story
Manyeka Arts Trust

Lank, lank gelede was daar twee mense, Dima en Uil. Uil het die son, water en vuur besit.

Dima het niks gehad nie en het saam met sy gesin in die donker gewoon.

1

Dima het probeer tuin maak, maar die groente wou nie groei nie omdat dit nie sonlig gekry het nie. Dit was nie net Dima wat gesukkel het nie, almal het swaargekry omdat daar nie sonlig was nie.

Wanneer die mense gaan jag het, het hulle die vleis aan die bome gehang om uit te droog, maar die vleis het sleg geword omdat daar nie son was om dit uit te droog nie.

2

Op 'n dag besluit Dima om vir Uil te gaan kuier. Uil se kos is heerlik en Dima wonder hoekom die kos so lekker is. Hy wonder of dit is omdat Uil se groente in die sonlig groei, of omdat dit op 'n vuur gekook word.

Dima beraam stil-stil 'n plan. Hy besluit om te dans. Hy wil hê almal moet naderstaan en hom bekyk. Dima is 'n baie goeie danser en Uil se hele familie bewonder hom. Dima dans en dans.

3

Toe dit begin skemer word, besluit Uil om die son by sy huis te gaan haal sodat hy steeds vir Dima kan sien dans. Uil het die son altyd in 'n diervelsakkie veilig binne-in sy huis gehou.

Nou dra hy die son uit en hou dit hoog bokant sy skouers. Oral is daar nou helder lig en almal kan ver sien.

Dit is ook nie lank nie of almal begin dans in die lig van die son.

4

Dima dans al nader aan die son. Uil het aan die begin die son styf vasgehou, maar na 'n rukkie vergeet hy van die son omdat hy die dansery so geniet.

Hy sien hoe mooi Dima dans en hy wil ook graag so dans.

5

Skielik slaan Dima die son met sy vegstok in die lug in net soos 'n bal.

Die son trek baie hoog die lug in en bly daar hang waar dit nou elke dag vir almal lig gee.

6

Dima hardloop so vinnig weg dat Uil hom nie kan vind nie. Hy bly baie lank weg. Na 'n lang ruk vermom Dima hom en keer terug na Uil se huis.

Die kinders herken hom dadelik en sê: "Daar is die man wat ons son gesteel het!"

Maar die grootmense stem nie saam nie. Hulle sê: "Nee, dit is nie hy wat ons son gesteel het nie."

7

Die mense het gesien dat hy 'n ou danser is omdat hy 'n klomp krale om sy lyf dra. Die krale is towerkrale wat mense laat dans.

Dit was nie lank nie, toe begin al die mense weer dans.

Hulle dans die hele middag totdat die son begin sak. Dit word donker en hulle kan die towerdanser nie meer sien nie.

8

Uil sê vir sy vrou: "Kyk in my sak en bring vir my die maan."

Sy maak so en Uil lig die maan hoog bo sy skouers en almal kan weer sien hoe Dima dans.

Dima dans nader en nader aan die maan, want hy het alweer 'n plan.

9

Hy vat sy vegstok en slaan die maan in die lug op.

En weereens hardloop hy vir Uil weg. Hierdie keer bly Dima so lank weg dat almal van hom vergeet.

10

Dima het homself weer vermom en na Uil se blyplek teruggekeer. Dié keer is hy op soek na Uil se vuur. Uil het die vuurstokkies om sy nek gehang.

Dima gaan sit by Uil onder die boom en hulle begin 'n klapspeletjie met die naam Gi speel.

11

Hulle klap en klap en Uil se vuurstokkies begin klap-klap, klap-klap om sy nek.

Dima probeer die stokkies gryp, maar Uil gooi dit oor sy skouers sodat die stokkies oor sy rug hang.

12

Hulle klap die hele dag en die ritme laat Uil skoon van die vuurstokkies vergeet. Skielik, toe die stokkies weer oor sy skouer swaai, gryp Dima dit en hardloop weg.

Uil en sy hele familie hardloop agter Dima aan, maar Dima is te slim vir hulle en hy strooi die pad vol dorings. Uil kan nie vir Dima vang nie.

13

Dima kan nie wag om vuur te maak nie, hy vryf en vryf die stokkies. Hy blaas en blaas totdat 'n klein vlammetjie verskyn.

Die vuurtjie word groter en groter en die veld en bome begin brand. Dima sê: "Van nou af sal mense vuur kan maak met elke boom op aarde."

14

Jare later gaan Dima terug na Uil toe, maar daar is net 'n klein seuntjie wat met diertjies van hout speel.

Dima vra die seuntjie om hom te wys waar hulle hulle water bêre. Die seuntjie gaan wys Dima waar is die djaba, 'n groot kleipot vol water.

15

Dima maak of hy op pad huis toe is, maar hy gaan skelmpies na die kleipot en keer die pot om. Al die water loop uit.

Dima spring vinnig oor die stroom water sodat Uil hom nie kan vang nie.

16

Daarom is die aarde se riviere vandag nog vol water.

Daarom het ons die son, die maan en vuur – alles te danke aan die wonderlike Dima.

17

Aantekening: In 2003 het Katunga Carimbwe sy weergawe van die storie aan Titu Mangumbu en Marlene Winberg in die Noord-Kaap in Suid-Afrika vertel terwyl hy geskilder het.

Mangumbu, Mahongo en Winberg het die storie vertaal en die geskrewe weergawe het verskyn.

Carimbwe se ouers het vir hom as kind die storie vertel in Mavinga, Angola, waar hy in 1958 gebore is. Die meeste van die stories speel af in Suider-Afrika en die Kalahari waar daar !Xun gepraat word, asook ander bekende tale. Dima se name verskil van plek tot plek.

Die "klapspeletjie" word steeds deur die !xun, die Nharo en Kalahari-San gespeel. Die storie stel Dima voor as 'n kulturele held en legende.

18

Die Manyeka Arts Trust hou ʼn !Xun- vertelling van die storie deur Meneputo Mnaunga Maneka.

Die illustrasies is digitaal deur Satsiri Winberg verwerk vanaf skilderye wat vir die Manyeka Art Collection gemaak is deur San-kunstenaars Thaalu Rumao, Tuoi Samcuia en Joao Wenne Dikuango, wat alreeds oorlede is.

19
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Dima en Uil
Author - Traditional San story
Translation - Marina Paynter
Illustration - Manyeka Arts Trust
Language - Afrikaans
Level - Read aloud