Haas en Hiëna
Phoebe Sibomana
Rob Owen

Lank gelede was Haas en Hiëna bure en goeie vriende. Hulle het baie van mekaar gehou. Hulle het gesels oor hul families, en oor die wêreld wat so mooi is. Hiëna het 'n groot plaas besit waarop hy baie trots was. Daar was net een probleem: die plaaswerk was te veel vir hom. Hy besluit toe om Haas te vra om hom op die plaas te help. In ruil vir sy hulp sou Hiëna vir Haas betaal met neute van die plaas. Haas en Hiëna het saamgestem dat goeie bure mekaar help.

1

Maar Haas het elke dag gesit en niksdoen. Wanneer Hiëna by die huis kom ná 'n dag se harde werk, het Haas altyd vir hom 'n paar neute gevra. Hiëna was nie baie tevrede hiermee nie. Hy het geglo jy moet werk om iets te verdien.

2

Op 'n dag dink Hiëna: "Dit maak my moeg om heeldag alleen op die plaas te werk. Ek gaan vir Haas sê hy kan net neute kry as hy daarvoor gewerk het." Haas stem in en hulle skud hand op hierdie ooreenkoms. Hulle stem saam dat hulle meer werk gedoen sal kry en dan sal daar genoeg kos vir hul families wees.

3

Haas en Hiëna werk baie goed saam. Hulle lag en sing terwyl hulle die werk doen. Haas grawe gate en Hiëna help hom om mielies te plant. Hiëna is baie bly, want nou kan hy veel meer plant as tevore.

4

Haas is baie fluks en werk heeldag sonder om te rus. Maar naderhand voel hy dat hy te hard werk vir wat hy verdien. Hy voel Hiëna moet vir hom meer neute gee om hom te beloon vir al sy harde werk.

5

Hy neem vir Hiëna landerye toe. "Kyk na hierdie oes, ek het alles geplant en ek dink ek verdien meer neute," sê Haas. Hiëna kan sy ore nie glo nie. "Ons het hierdie oes saam geplant, ek kan jou nie meer neute gee nie. Jy moet nie vergeet wie se plaas dit is nie," antwoord Hiëna vies. Haas is baie kwaad oor wat Hiëna gesê het en stap teleurgesteld weg.

6

Nou is Hiëna bekommerd. "Hoe gaan ek hierdie probleem oplos? Haas is 'n baie goeie werker en ek kan nie bekostig om hom te verloor nie." Hiëna roep vir Haas sodat hulle 'n oplossing vir die probleem kan vind. "Hoeveel meer neute wil jy hê?" vra Hiëna vir Haas. Haas is uitgeslape. Hy dink 'n rukkie voordat hy antwoord: "Weet jy wat my gelukkig sal maak? As ek die helfte van jou plaas kan kry."

7

Hiëna het hieroor gedink. "Goed, jy kan die helfte van die plaas kry, maar jy moet nog steeds so hard werk." Haas glimlag, want hy weet dit is 'n uitstekende ooreenkoms en hy stem in om so te maak.

8

Maar soos die tyd verby gaan, het Haas weer opgehou werk en net heeldag gesit en sing. Hiëna het nog steeds hard en lank gewerk en dit het hom kwaad gemaak dat hy al die werk moet doen. Hy hou nou nie meer van Haas nie. Hiëna begin wonder oor die ooreenkoms wat hy met Haas gemaak.

9

Hiëna het bekommerd geraak oor Haas se gedrag. Hy het ʼn slim plan gemaak om die probleem op te los. Hy sê vir Haas: "Ons het 'n probleem. Ons was vriende en het lekker saam geboer, maar jy het lui geraak en jy hou nie by ons ooreenkoms nie."

10

"As jy my nie help nie, moet jy padgee," sê Hiëna. Maar Haas weier om te loop, want hy het gewoond geraak aan al die kos wat hy verniet kry. Hiëna het genoeg gehad van die storie en jaag vir Haas van die plaas af weg. "As ek jou ooit weer naby my plaas sien, sal ek jou opvreet!" skree hy vir Haas. Dit is hoekom Hiëna steeds vir Haas jaag as hy hom naby sy plaas sien. En van daardie dag af skuil Haas in die veld en probeer groente steel van die plase in sy omgewing.

11
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Haas en Hiëna
Author - Phoebe Sibomana
Translation - Chantelle Grobler
Illustration - Rob Owen
Language - Afrikaans
Level - Read aloud