Namukhaywa
Matthews M Wanga
Wiehan de Jager

Lank, lank gelede het daar in die dorpie Elunyiko 'n man met die naam van Ndong'a gewoon. Sy vrou was Namukhaywa.

Hulle het ses kinders gehad. Almal was dogtertjies.

1

Toe Namukhaywa swanger is met haar sewende kind het Ndong'a haar gewaarsku: "As jy nog 'n dogter kry, gaan ek jou verlaat, maar as jy 'n seun in die lewe bring, sal ek vir jou 'n groot partytjie hou."

2

Toe dit tyd word om geboorte te gee, het Namukhaywa na die tradisionele vroedvrou gegaan. Wat sou dit wees? 'n Dogtertjie of 'n seuntjie?

3

Dit was 'n seuntjie EN 'n dogtertjie – 'n tweeling! Sy het die seuntjie Mukhwana genoem en die dogtertjie Mulongo.

Toe Namukhaywa na haar seuntjie kyk, het sy baie bly geword, maar toe sy na haar dogtertjie kyk, het sy hartseer geraak. Sy het gevoel daar was net een ding wat sy kon doen.

4

Namukhaywa laat Mulongo in die sorg van die vroedvrou en neem Mukhwana terug huis toe na haar man toe.

5

Sy het trots vir Ndong'a hulle babaseuntjie gewys. Hy was baie bly en het almal in die dorpie genooi om die geboorte van sy seun te vier.

6

Mukhwana het groot geword as 'n voortreflike jong man en Mulongo as 'n pragtige jong vrou.

7

Op 'n dag, terwyl Mukhwana besig was om sy pa se beeste op te pas, sien hy 'n baie mooi meisie. "Dit is die vrou met wie ek wil trou," sê hy vir homself.

8

Maar toe hy haar vra om met hom te trou, begin sy sing:

"Mukhwana wefwe, Mukhwana. So yakhupa omunwa, Mukhwana. Nebebula omunwa, Mukhwana. Barulaka khulwanda, Mukhwana. Nebebula omusiani, Mukhwana. Barers mungo muno, Mukhwana. Iyeyi yakwa, Mukhwana Iyindi yakwa, Mukhwana."

9

Dit gebeur oor en oor. Mukhwana weet nie wat om te doen nie en gaan praat met sy ma, Namukhaywa.

"Ek het 'n pragtige meisie gevind," sê hy."Ek wil met haar trou, maar elke keer as ek haar vra om met my te trou, sing sy dieselfde liedjie."

10

Tot sy verbasing sê Namukhaywa: "Dit waaroor die meisie sing, is waar. Dit is jou suster. Julle is as 'n tweeling gebore. Jou pa wou 'n seun gehad het en nie 'n dogter nie. Ek het jou babasussie by die vroedvrou gelos en jou teruggebring na jou pa."

11

Toe Mukhwana die storie vir sy pa vertel, sien sy pa dat hy verkeerd was. Hy het Namukhaywa geroep en hulle het saam na die vroedvrou gegaan om sy suster te gaan haal.

12

Toe Mulongo by die huis aankom, het haar pa en die dorp se oudstes 'n bok geslag en die tradisionele seremonie uitgevoer om Mulongo met haar broer en ses susters te herenig.

13

'n Jaar later is Mulongo getroud met die seun van die ryk koning van daardie dorpie. Sy het geluk en rykdom vir haar familie gebring.

14
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Namukhaywa
Author - Matthews M Wanga
Translation - Stephanie Baker
Illustration - Wiehan de Jager
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs