

Hello, ek is Ntombi. Ek is 'n dogtertjie net soos ander dogtertjies, behalwe dat ek 'n krokodil in my lyf het. Jy kan hom nie sien nie, maar ek weet hy is daar. Sy naam is Verskriklike Indringer. Hy kruip in my lyf weg maar doen nie skade aan my maats nie.
Hy sal nie uit my lyf sluip en in jou lyf inkruip as jy langs my sit of my hand vashou nie.
Hy sal nie uit my lyf sluip en in joune spring nie, selfs al deel jy jou middagete met my, of al lê jy langs my op die vloer en rus.
My krokodil, die Verskriklike Indringer, is in my lyf vandat ek gebore is. Hy hou daarvan om al die soldate wat my liggaam teen kieme help veg en keer dat ek nie siek word nie, op te vreet. Wanneer hy te veel van my soldate opvreet, word ek baie siek. Dan kan ek nie skool toe gaan en met my maats speel nie.
Ek moet my medisyne elke dag op dieselfde tyd neem, anders word my krokodil in 'n slegte bui wakker en vreet my soldate op. Ek wil nie hê hy moet dit doen nie, daarom herinner ek my ouma om my spesiale medisyne betyds vir my te gee.
Ek eet gesonde kos soos groente en vrugte, sodat die soldate in my liggaam sterker kan word. Dan kan my krokodil hulle nie vang nie. Soms dink ek dat hy vir 'n rukkie gaan slaap, omdat ek dan gesond en sterk voel en weer met my maats kan speel. Ek is so bly wanneer hy gaan slaap, want dan kan ek speel.
My ouma het my 'n rukkie gelede kliniek toe geneem om iets spesiaals te kry om my krokodil te voer. Dit laat hom diep slaap en dan vreet hy nie my soldate op nie. Ek kan dan al die lekker dinge doen wat die ander kinders doen, soos hardloop, klim en dans.
Ek is baie lief vir my ouma. Sy is 'n goeie mens en sy is so lief vir my. Sy gee my die regte kos om te eet en sorg dat ek ekstra vitamiene neem om my soldate sterk te hou. As ek siek word, neem sy my dadelik kliniek toe sodat ek medisyne kan kry om my beter te maak. Ek hou baie daarvan om op haar skoot te sit wanneer sy vir my stories lees voor ek bed toe gaan.
Nadat ouma my in die bed gesit het, dink ek oor baie dinge. Ek dink aan al die slim dinge wat ek nog in die skool gaan leer. As ek aanhou om my spesiale medisyne te neem, sal ek na my ouma kan omsien en ek sal vir haar stories kan lees eendag wanneer sy baie oud is en nie meer goed kan sien nie. Wanneer ek groot is, wil ek graag verder studeer. Ek wil medisyne ontdek wat die krokodille in ander mense se liggame vir altyd sal laat slaap.
Ek gaan leer om met my krokodil saam te leef, maar ek gaan hom aan die slaap hou soveel as wat ek kan. Ek gaan ook baie maats hê, en elke dag soveel pret hê as wat ek kan.
My ouma, my tannies en ooms en my maats is lief vir my, al bly daar 'n krokodil met die naam Verskriklike Indringer in my lyf.

