Die eerste man en eerste vrou
Southern African Folktale
Jemma Kahn

Lank, lank gelede, toe die aarde nog nuut was, het groot berge die aarde bedek soos 'n kombers en groot bome het hoog in die lug gegroei.

1

Op die aarde was daar 'n diep, donker poel water, stil en koud.

2

Onder in die poel was daar twee slange. Een was dik met groot, sterk merke op sy lyf, en die ander een was kleiner en fyner.

3

Op 'n dag was daar 'n groot storm. 'n Weerligstraal het deur die water tot onder in die poel geslaan. Die weerlig het die water vir 'n oomblik oopgeklief en die slange het die aarde daar bo gesien. Dit was pragtig, vol helder kleure en vorms en allerhande geveerde diere. Toe die water weer bokant hulle toegaan, kon die slange die mooi dinge wat hulle gesien het, nie vergeet nie.

4

"Ons kan nie langer in hierdie koue, donker poel bly nie," sê hulle vir mekaar. "Kom ons swem boontoe en gaan kyk hoe lyk dit op die aarde daar bo."
"Hoe gaan ons op die aarde lewe?" vra die kleiner slang. "Gaan ons op ons mae rondseil?"

5

"Die voëls in die lug sal nie kans kry om vir ons te lag omdat ons so laag is nie," sê haar vriend. "Ons sal nie seil nie, ons sal loop!" En baie stadig begin hulle hulself reguit maak. Saam-saam swem hulle boontoe, op, op, op na waar die lig is.

6

Toe hulle bo kom, gebeur 'n vreemde ding. Hulle sterte verdeel in twee en hulle kry bene met voete en tone. Uit hulle skouers groei daar arms met hande en vingers.

7

Hulle is nie meer slange nie, maar Man en Vrou.

8

"Ons sal vir ons 'n huis in die heuwels maak," sê die Vrou. "Elke oggend sal ons die son sien opkom en voel hoe dit warm op ons rûe skyn." "Ons sal na die gras en die bome omsien," sê die Man, "en ons sal vriende wees met al die diere en die voëls."

9

"Kom," sê die Eerste Man. "Ek kom," sê die Eerste Vrou. En hulle stap saam die nuwe wêreld binne.

10
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Die eerste man en eerste vrou
Author - Southern African Folktale
Translation - Ezelle Van den Berg
Illustration - Jemma Kahn
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs