Leeu se vuurstokke
Traditional San story
Manyeka Arts Trust

Hierdie storie begin in die ou tye toe mense en diere almal saam geleef het.

In daardie dae het die mense nie die reg op vuur gehad nie. Hulle het hul kos rou geëet. Slegs Leeu het die krag van vuur gehad.

1

Die mense en die diere het bymekaargekom om 'n plan te maak. "Wat kan ons doen om die vuur van Leeu te kry sodat ons ons kos kan gaarmaak?" Vra hulle.

Hulle besluit toe om te wag tot dit aand word, en toe begin hulle sing en sing, klap en klap, en roep almal nader. "Kom dans saam met ons! Kom dans saam met ons! Kom dans saam met ons!"

2

Baie diere het uit die bos gekom en saam kom dans en sing. Leeu het sy vuurstokke saamgebring. Hy het die stokke teen mekaar begin vryf en vryf en vryf. Gou het 'n bietjie rook onder die stokkies verskyn.

Leeu het op die vlamme begin blaas en bietjie droë gras bygegooi. 'n Klein vlammetjie het verskyn en elkeen bring toe 'n stuk hout. Gou het almal rondom die vuur gedans.

3

Haas was 'n slim en vinnige dier. Die mense sê toe vir hom: "Terwyl ons hier sing en terwyl Leeu saam met ons dans, moet jy sy vuurstokke gryp en hardloop."

So gryp Haas toe Leeu se vuurstokkies en hardloop weg. Maar Leeu het hom gevang en sy vuurstokke teruggebring.

4

Leeu sing 'n grootpraterige lied:

"Vir my maak dit nie saak nie. Ek het geen probleem nie. Ek kan jou eet met hare, ek kan jou eet sonder hare. Ek het nie 'n probleem nie. Almal van julle is kos vir my."

5

Springbok kon vinnig hardloop en baie hoog spring. Die mense sê vir hom:

"Terwyl Leeu saam met ons dans en sing, moet jy sy vuurstokke gryp en weghardloop."

6

Terwyl hulle dans en sing, het Springbok die vuurstokkies gegryp en weggespring in die veld in.

Maar Leeu sê: "Hoekom hoor ek nie die klop-klop-geluid van Springbok se hoewe agter my nie?"

7

Leeu draai om en sien hoe Springbok die veld in hardloop met sy vuurstokke.

Hy hardloop agter Springbok aan, vang hom en kom terug met sy vuurstokke. Weereens sing Leeu sy grootpraterige liedjie.

8

Toe fluister die mense vir mekaar. Hulle sê: "Kom ons vra vir Duiker. Hy is klein en baie vinnig."

"Duiker," roep hulle,"Terwyl leeu saam met ons dans en sing, moet jy sy vuurstokkies gryp en weghardloop."

9

Toe hulle om die vuur dans, gryp Duiker Leeu se vuurstokke en hardloop in die veld in. Maar Leeu sê: "Hoekom hoor ek nie Duiker se snuif-snuif-geluid agter my nie?"

Hy draai om en hardloop agter klein Duiker aan wat besig is om in die veld te spring. Leeu vang hom en keer terug na die vuur met sy stokke.

10

Weereens sing Leeu sy grootpraterige liedjie:

"Vir my maak dit nie saak nie. Ek het geen probleem nie. Ek kan jou eet met hare, ek kan jou eet sonder hare. Ek het nie 'n probleem nie. Almal van julle is kos vir my."

11

"O," sug die mense, "Watter dier sal ons nou kan help? Volstruis het die langste bene van almal, kom ons vra hom."

Hulle verduidelik die plan vir Volstruis en hy gryp hierdie keer Leeu se vuurstokkies.

12

Leeu sê toe: "Hoekom hoor ek nie Volstruis se hoë stem agter my nie?"

Hy kyk rond, sien Volstruis en hardloop agter hom aan.

13

Na 'n lang tyd kom Leeu terug met 'n moeë gesig, want Volstruis het te vinnig vir hom gehardloop. "Van vandag af," sê hy, "sal ek nie enige een van julle met rus laat nie. Ek sal julle jag en julle jaag en julle opeet!"

En dit is hoe Leeu almal se vyand geword het en hoe die mense die krag van vuur gekry het.

14
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Leeu se vuurstokke
Author - Traditional San story
Translation - Stephan Coetzee
Illustration - Manyeka Arts Trust
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs