

Lank, lank gelede was daar sewe sonne in die lug. Die strale van die sonne het die aarde so warm gemaak dat die mense dit nie kon uithou nie.
Die sewe broers van die Munda-stam besluit toe om van die sewe sonne ontslae te raak. Die Munda-broers het hulle pyle na die sonne geskiet en ses van die sewe sonne doodgemaak.
Die sewende son het agter 'n heuwel gaan wegkruip.
Noudat die sonne weg was, was daar geen lig nie. Oral was dit pikdonker. Die bokkies kon nie die tiere sien nie, die olifante het in bome vasgeloop, die hase het oor die leeus geloop. Alles was een groot deurmekaarspul.
Die diere besluit toe om 'n vergadering te hou. Hulle wou 'n plan maak om die probleem op te los. Die haas het vir die diere vertel dat een van die sewe sonne nog bestaan, maar agter 'n heuwel wegkruip. Nou moes hulle besluit wie om te stuur om die son te gaan roep.
"Ek is die koning van die oerwoud, ek sal die son gaan roep," sê Leeu. "Son, Son, moet asseblief nie wegkruip nie. Kom agter die heuwel uit en skyn op ons," brul Leeu. Maar die son wou nie na Leeu luister nie.
Olifant was volgende. Hy lig sy slurp hoog in die lug op en trompetter: "Son, Son, kom asseblief terug!" Maar die son het ook nie na hom geluister nie.
Die pragtige pou het gedans en gepleit: "Son, Son, kom asseblief terug." Maar die son het steeds geweier om uit te kom. Die een na die ander het al die diere die son geroep, maar die son het nie na een van hulle geluister nie. Uiteindelik het Haan aangebied om die son te roep. Almal het vir hom gelag.
Maar Leeu sê: "Gee vir Haan ʼn kans om te probeer." Haan het vorentoe gestap en saggies gekraai: "Koekedoeee koe-koeee." Almal was verbaas toe die son 'n klein bietjie agter die heuwel uitloer.
Die haan het weer gekraai. Hierdie keer was hy 'n bietjie dapperder: "Koekedoeee KOE-KOEEE." Die son het ʼn bietjie hoër opgekom. Vir die derder keer het die haan gekraai. Hierdie keer het hy nog harder en dapperder gekraai: "KOEKEDOEEE KOE-KOEE!" En net daar kom die son hoog en helder uit. Daar was oral lig. Die diere en die mense was baie bly.
Die diere het vir die mense gevra om nie weer die son dood te maak nie. Van daardie dag af, wanneer die haan in die oggend kraai, kom die son op en skyn in die lug.


