

Lank gelede was daar ʼn seuntjie met die naam Luke. Sy ouers is oorlede toe hy nog baie klein was. Die dorpenaars was hartseer oor Luke se ouers en het gewonder wat van die seuntjie gaan word.
Ná die begrafnis het die dorp se hoofman, Khumba, die mense vir 'n vergadering byeengeroep. Die dorpsmense het respek vir Khumba gehad en was ook ʼn bietjie bang vir hom omdat hy vreemd gelyk en gepraat het. Sy hare was lank en het oor sy rug gehang. Die mense het geglo dat Khumba in die woud gewoon het nog lank voordat die bome afgekap is en daar huise gebou is.
Op die vergadering het Richard, 'n baie ryk man, vir klein Luke aangeneem. Richard het baie kinders gehad. Die dogters het hulle ma in die huis gehelp terwyl die seuns die beeste in die veld laat wei het.
Luke het in hierdie gesin grootgeword en was baie gelukkig. Hy was lief vir hulle en hulle was lief vir hom. Hy het dit geniet om die beeste in die veld te laat wei.
Daar was een koei waarvoor Luke baie lief was en hy het haar Mina genoem. Mina was die oudste koei in die hele trop en sy was baie waardevol vir Richard, haar eienaar.
Op 'n dag toe die seuns besig was om die beeste op te pas, het dit begin reën en hulle het skuiling gesoek onder 'n boom. Dit het baie lank gereën en later het dit donker geword. Toe die reën uiteindelik ophou, het die seuns die beeste gaan soek om hulle huis toe te neem, maar al die beeste was weg.
Hulle was bang dat hulle pa met hulle gaan raas as hulle sonder die beeste by die huis opdaag. Aangesien daar geen spore van die beeste was nie, het twee van die seuns besluit om na hulle oom se huis toe te gaan en die ander twee seuns het besluit om na hulle tannie se huis te gaan. Luke het aangehou om na die beeste te soek omdat hy nie 'n oom of tannie gehad het waarheen hy kon gaan nie.
Luke volg al die paadjies wat hy ken. Terwyl hy stap, sing hy 'n liedjie oor Mina, sy geliefde koei.
Luke sing hierdie liedjie dwarsdeur die nag. Soos wat hy loop, trap hy op die beesmis, maar dit is koud. Hy trap in die urine, maar dis ook koud. Luke hou aan soek en gee nie moed op nie.
Teen dagbreek kom Luke by 'n klein dorpie en daar vind hy al die beeste. Hulle is in die sorg van die hoofman. Luke smeek die hoofman om die diere vir hom te gee sodat hy hulle huis toe kan lei, maar die hoofman weier.
Luke is moedeloos. Soos wat hy omdraai om huis toe te stap begin hy weer die liedjie oor Mina sing. Dis toe dat Mina, die oudste koei, Luke se liedjie hoor. Mina spits haar ore en stap agter Luke aan. Die ander beeste breek deur die omheining en begin ook vir Luke volg. So lei Luke al die beeste huis toe.
Toe hulle by die huis kom, wag al die mense hulle in. Hulle sing van blydskap omdat Luke en die beeste by die huis is. Richard bedank Luke en gee vir hom 'n rooi sak vir sy skoolboeke. En dit is hoe Luke se skooldae begin het.

