

Eendag lank, lank gelede was daar 'n ou vrou wat alleen gewoon het. Sy het baie hoenders gehad. Tussen al die hoenders was daar 'n haan wat baie oud was en nie meer kon kraai nie.
Op 'n dag kom die ou vrou se kleinseun haar besoek. Sy is baie bly om hom te sien en sy vra die jong man om die haan te vang sodat hulle hom kan kook en eet.
Die haan hoor die ou vrou en sy hart sink. "Ai ou vrou, jy is ook baie oud, maar ek sien niemand wat jou probeer doodmaak nie. Maar wag, ons sal sien!" Die haan besluit om stilletjies weg te glip. Hy besluit om na die groot stad te gaan om daar te gaan sing.
Langs die pad ontmoet die haan 'n kat. "Wat het met jou gebeur?" vra die kat. "My vriend, my eienaar wil my eet omdat ek haar nie meer kan sê hoe laat dit is nie," sê die haan. "Ek is op pad na die groot stad om daar te gaan sing. Waarheen is jy op pad?" "Ek is besig om weg te loop," sê die kat. "My eienaar het ook besluit om my dood te maak omdat ek nie meer rotte kan vang nie. Kan ek saamkom?" "Kom ons gaan!" sê die haan.
Hulle het 'n rukkie gestap toe hulle 'n hond sien wat baie vinnig hardloop. Die haan roep die hond en vra hom hoekom hy so vinnig hardloop. "My vriend, my eienaar het my weggejaag omdat ek nie meer diewe kan vang nie," antwoord die hond hyg-hyg. "Ons het dieselfde probleem," sê die haan. "Ons gaan na die groot stad om te sing." "Kan ek saamkom?" vra die hond.
Saam-saam vat die drie diere die pad. Terwyl hulle loop, kom hulle 'n perd teë. "Wat gaan aan?" vra die perd. "Ons eienaars wil ons doodmaak omdat ons nie meer ons werk kan doen nie," sê die drie diere. "Ek het dieselfde probleem," sê die perd. "Waarheen is julle op pad?" "Ons gaan na die groot stad om daar te sing," antwoord die diere. "Kan ek saamkom?" vra die perd.
Die diere loop en loop totdat dit donker is. Hulle sien 'n huis in die verte, en toe hulle by die huis aankom, hoor hulle geluide binne. Die diere is bang en besluit om hardop te sing om die mense wat binne-in die huis is, weg te jaag. Die perd staan op die grond, die hond klim op die perd se rug, die kat klim op die hond se rug, en die haan klim tot heel bo op die kat se rug.
Hulle begin onmiddellik sing. "Koekoelekoeee," sing die haan. "Miaaauuu, miaaauuu," sing die kat. "Woe-woe-woefff," sing die hond. "Hie-hie-hie-hieee," sing die perd. Al die diere sing luidkeels saam. Die mense in die huis is diewe. Hulle skrik so groot vir die lawaai dat hulle weghardloop.
Toe gaan die ou haan, die hond, die perd en die kat die huis binne en daar vind hulle heerlike kos. Toe hulle klaar geeët het, gaan slaap hulle. Die haan slaap naby die deur, langs hom die kat, dan die hond en laastens die perd.
Dit was nie lank nie, toe kom die diewe weer terug. Hulle leier loop voor. Hy het net die deur oopgemaak toe die haan hom met sy skerp bek pik. Toe krap die kat hom, en toe kom hy af op die hond, wat hom byt.
Die dief probeer wegspring, maar hy loop vas in die perd, wat hom ʼn skop gee. Hy skrik so groot dat hy weghardloop, en die ander diewe saam met hom. Hulle het nooit weer teruggekom nie.
Die diere het daarna lank en gelukkig in die huis saamgewoon. Die ou haan het vir hulle gesê hoe laat dit is en die hond het hulle beskerm. Die kat het al die rotte in die huis gevang en die perd het sy vriende op sy rug gedra oral waarheen hulle wou gaan.

