

Daar was eendag 'n meisie genaamd Mulongo wat by haar ouers gebly het naby die dorpie Budongo.
Op 'n dag stuur Mulongo se ma haar om water by die put te gaan haal.
Op pad na die put kom sy haar maats teë. Hulle is op pad woud toe om brandhout te gaan soek. Mulongo wil saam met hulle gaan.
''Sal julle asseblief vir my onder hierdie muvule-boom wag?'' vra sy, ''ek moet water vir my ma gaan haal.'' Maar Mulongo se maats wou nie wag nie.
''Als reg, ek sal julle in die woud kry!'' sê Mulongo. Sy hardloop om water te kry en neem dit na haar ma toe.
Toe gaan Mulongo terug na die woud om te kyk waar haar maats is.
Sy volg 'n voetpad wat by 'n stroom uitkom. Aan die ander kant van die stroom is 'n klomp paadjies wat in verskillende rigtings loop.
"Watter pad het my maats gekies?'' wonder sy.
Sy kies die grootste voetpad en hou aan loop, maar sy kry nie haar maats nie.
Sy gaan sit onder 'n boom om 'n bietjie te rus, maar sy is so moeg dat sy aan die slaap raak.
Toe Mulongo wakker skrik, is dit alreeds donker. Oral is daar geel oë wat in die donker skyn. Mulongo is omring deur hiënas!
Sy is selfs te bang om te huil. Sy probeer weghardloop, maar die hiënas omring haar, want hulle is baie honger.
''Moenie roer nie,'' sê die nors stem van die grootste hiëna. ''As jy hardloop, gaan ons jou opeet!''
''Laat my asseblief huis toe gaan!'' soebat Mulongo.
Maar die hiënas neem vir Mulongo na hulle huis in die woud.
Dit is 'n vuil hut vol bene en daar is 'n gegons van vlieë. Sy gaan lê en maak of sy slaap.
In die donker hoor sy die hiënas met mekaar praat. ''Hoe kom die vuur aan?'' vra die een hiëna. ''Kook die water al?''
''Als is reg,'' antwoord die hiëna. ''Moet ek haar bring?''
''Ja, ja!'' grom die ander hiënas. ''Ons is honger!'' Hulle is gereed om Mulongo uit die hut te sleep.
Maar die groot hiëna praat: ''Hiënas, wag. Onthou wat die reëls is. Geen hiëna mag alleen eet nie. Ons moet die hele familie nooi om die maaltyd te deel.''
''Ek sal die skoonfamilie roep,'' sê sy vrou. ''Ek sal al my neefs gaan roep,'' sê die klein hiëna. ''Ek sal my broers en susters gaan roep,'' sê 'n ander hiëna. ''Ek sal hier by ons kos bly,'' sê die groot hiëna.
Die groot hiëna gaan sit by die ingang van die hut terwyl al die ander hiënas in verskillende rigtings gaan.
Hulle vat lank en die groot hiëna begin insluimer voor die warm vuur. Kort voor lank is hy aan die snork. Nou is dit Mulongo se kans om weg te kom! Maar hoe gaan sy verby die hiëna kom? Hy is so groot dat hy die hele ingang van die deur versper.
Daar is net een uitweg. Sy spring 'n vlieënde sprong regoor die hiëna se rug en hardloop so vinnig as wat haar bene haar kan dra.
Net toe kom die hiënas terug en sien wat gebeur het. Hulle hardloop agter haar aan en tjank van woede en teleurstelling. Maar dis te laat.
Toe Mulongo naby haar dorpie kom, herken een van die inwoners haar en roep: ''Mulongo, Mulongo is op pad, Mulongo is op pad.'' Haar pa en ma hardloop uit om haar te ontmoet.
Hulle omhels haar terwyl hulle vir God dankie sê dat hy hulle kind veilig bewaar het. ''Mulongo, Mulongo, ons het gedink jy is dood!''
Van daardie dag af het Mulongo en haar maats nooit weer alleen na die woud gegaan nie.

