Die Koningin Van Soweto: Die Storie Van Basetsana Kumalo
Jessica Taylor
Mia du Plessis

Basetsana Makgalemele is in Soweto gebore. Sy is die derde dogter van haar ouers. Hulle het haar Basetsana genoem, wat "meisie" beteken, maar almal noem haar Bassie. In die Tswana-kultuur word geglo dat jou volgende kind 'n seun sal wees as jy jou dogter "meisie" noem. Net soos wat haar voorouers gesê het, het dit toe werklik gebeur. Haar ouers se volgende kind was 'n babaseuntjie.

1

As kind was Bassie baie skaam, maar sy het daarvan gehou om alleen in haar kamer te sing en te dans. Op 'n dag, by die skool se netbaloefening, het die afrigter twee meisies gevra om van die ander meisies te kies vir twee netbalspanne. Bassie het langs die veld gestaan en gehoop dat iemand haar sal kies en vra: "Kom speel saam met ons!" Maar niemand wou haar in hul span hê nie. Min het hulle geweet dat Bassie eendag een van die beroemdste mense in die land sou word.

2

Bassie se ma was 'n onderwyseres en haar pa 'n busbestuurder. Oor naweke het sy saam met haar sussies en boeties haar ouers gehelp om ekstra geld te verdien. Hulle het toebroodjies gemaak om by sokkerwedstryde te verkoop. Die gesin het saamgespan om die toebroodjies so vinnig moontlik te verkoop sodat die kinders ná die tyd saam met hulle maatjies kon baljaar.

3

Op 16 was Bassie 'n pragtige jong dame. Sy was so beeldskoon dat sy in een jaar twee skoonheidskompetisies gewen het: Mej. Soweto en Mej. Swart Suid-Afrika. Bassie was nie net mooi aan die buitekant nie, maar ook aan die binnekant. Al was sy 'n skoonheidskoningin, het sy steeds vir haar gemeenskap omgegee.

4

Bassie was ook 'n baie slim meisie. Sy het altyd hard gewerk en haar bes gedoen, veral in haar gunsteling-vak, Wetenskap. Al haar harde werk het vrugte afgewerp toe sy in matriek as die topstudent vir Wetenskap aangekondig is. Maar dit was nie al nie. Sy was ook die hoofmeisie van die skool. Hierdie skaam klein meisietjie was nou die gewildste meisie in die hele skool.

5

Bassie se pa het sy kinders altyd aangemoedig om te lees. Eendag het hy haar verras met 'n boek, 'The power of positive thinking'. Sy het uit hierdie boek geleer dat optimisme die sleutel is om jou drome 'n werklikheid te maak. Haar groot droom was om Mej. Suid-Afrika te word. Haar droom het waar geword en boonop is sy as eerste prinses in die Mej. Wêreld-kompetisie gekroon.

6

Bassie se ma is haar rolmodel. Sy beskryf haar ma as 'n "hardwerkende Xhosavrou". Sy wou in haar ma se voetspore volg en 'n onderwyseres word, maar dinge verloop nie altyd soos wat ons dit beplan nie! Nadat Bassie as Mej. Suid-Afrika gekroon is, het sy 'n TV-aanbieder geword. Sy het baie hard gewerk en haar beroep in die TV-bedryf het haar laat besluit om haar eie televisieproduksie-onderneming te begin. Sy het 'n baie suksesvolle sakevrou geword.

7

Bassie se leuse is: "As daar baie aan jou gegee word, sal baie van jou verwag word." Sy glo dat jy 'n talent ontvang sodat jy dit vir ander kan gee. Bassie het dit gedoen deur vrywillige werk te doen en haar tyd en geld aan andere te bestee. Sy is betrokke by projekte en organisasies wat mense in haar gemeenskap help. Een organisasie wat haar baie na aan die hart lê, is die Nelson Mandela Instituut.

8

Bassie en mnr. Mandela was baie goeie vriende. Toe sy die Mej. Suid-Afrika-kroon gewen het, het hy vir haar 'n brief geskryf om haar geluk te wens met haar prestasie. In die brief het hy haar "ons Koningin" genoem. Hulle het 'n passie gedeel vir kinders en onderwys en het diep geglo dat opvoeding die nasie sal help om armoede te oorkom.

9

Bassie is getroud met haar geliefde Romeo Kumalo en is nou bekend as Basetsana Kumalo. Saam het hulle die Romeo & Basetsana Kumalo Familiestigting gestig. Hierdie organisasie sorg vir weeskinders wat sonder 'n ma of 'n pa grootword.

10

Bassie moes leer hoe om haar besige werk- en gesinslewe te balanseer. Sy bestuur haar eie onderneming, Basetsana Vrouebeleggings. Sy en haar man het drie kinders: twee seuns en 'n dogter. Sy sien haar rol as ma vir haar kinders as haar "hoogste roeping en grootste voorreg".

11

Bassie sê die geheim vir sukses is moed, vasberadenheid en passie. Ten spyte van haar sukses bly sy nederig terwyl sy die wêreld 'n beter plek probeer maak. Om aan die buitekant mooi te wees, maak jou nog nie 'n mooi mens nie. Dit is 'n hart vol liefde en vrygewigheid wat 'n mens mooi maak. Dit het Bassie beslis en dis hoekom sy ons beeldskone koningin is.

12
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Die Koningin Van Soweto: Die Storie Van Basetsana Kumalo
Author - Jessica Taylor
Translation - Christine van Noordwyk
Illustration - Mia du Plessis
Language - Afrikaans
Level - Read aloud