Skelm Jakkals kul vir dom Donkie
Kholeka Mabeta
Benjamin Mitchley

Eendag lank, lank gelede, het Skelm Jakkals een oggend vroeg wakker geword. Hy was baie honger.

Sy maag grom: GRRrrrr! Hy spring op en gaan soek kos.

1

Hy dwaal ure lank in die veld rond op soek na kos, maar hy kry niks. Die son is ongelooflik warm.

Skelm Jakkals kan skaars voor hom sien. Al waaraan hy kan dink, is sy hongerpyne.

2

"Aaauuuu!" skree Skelm Jakkals skielik. Hy het in 'n waterput geval.

Hy is so honger dat hy dit nie gesien het nie.

3

"O my wêreld!" dink hy. "Ek moet uit hierdie put kom. Ek gaan hier doodgaan van die honger."

4

Skelm Jakkals skree en skree: "Help! Enige iemand, help!"

Donkie wei daar naby. Donkie hoor Skelm Jakkals roep en kom vinnig kyk wat aangaan.

5

"Wat makeer?" Donkie is baie bekommerd. "Die water in die put is so lekker koel. Dit is vervelig om alleen te swem. Ek soek iemand om my te help swem. Kom swem saam met my, asseblief," sê Jakkals.

6

"Die son is baie warm," sê Donkie, "maar ek kan nie goed swem nie."

"Spring in! Ek sal jou help om weer uit die put te kom," belowe Skelm Jakkals.

7

Donkie spring in die put. Die water is so koel! Hy kry nou nie meer warm nie. Maar toe hy hom kom kry, spring Skelm Jakkals op sy rug en uit die put uit. Jakkals lag en hardloop weg.

Donkie is in die put en kan nie uitkom nie. En nou is dit Donkie se beurt om te skree: "Help! Enige iemand, help!"

8
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Skelm Jakkals kul vir dom Donkie
Author - Kholeka Mabeta
Translation - Laura Latham
Illustration - Benjamin Mitchley
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs