Anansi kry die stories terug
Ane Henderson
Wiehan de Jager

Lank, lank gelede het die storiekoning, Nyame, al die stories gesteel en dit in 'n houtkis in die hemel toegesluit. Die mense op aarde was baie ongelukkig omdat hulle nie meer stories gehad het nie. Hulle het Anansi, die slim spinnekop, gevra om hulle te help.

1

Anansi spin 'n lang draad van die aarde af tot in die hemel en klim daarmee op. "Kan ek asseblief die stories kry?" vra Anansi vir Nyame. Nyame lag vir Anansi en sê: "Hierdie stories kom teen 'n baie duur prys. Jy sal dit nie kan bekostig nie, klein spinnekop."

2

"Hoeveel kos die stories dan?" vra Anansi. "Jy sal vir my drie skaars en gevaarlike diere moet bring," sê Nyame. "Bring vir my 'n luiperd met vlymskerp tande, 'n perdeby wat mense alte graag steek, en 'n slang wat mense heel kan insluk." Nyame lag te lekker en dink: "My stories is heeltemal veilig."

3

Anansi klim terug af aarde toe. Hy dink lank en hard en kry 'n slim plan. Hy grawe 'n diep gat en bedek dit met blare en takke sodat dit weggesteek is. Anansi gaan toe huis toe om te gaan eet en te slaap. Hy gaan die volgende dag terug gat toe, en tot sy geluk is daar 'n luiperd daarin. Die luiperd grawe woedend met sy kloue teen die kant van die gat, maar hy kan nie uitkom nie.

4

"Laat ek jou help, my vriend!" sê Anansi vir die luiperd. "Lê op die takke, dan trek ek jou uit." Luiperd maak so en Anansi spin hom gou toe in 'n taai web van spinnedrade en hys hom op hemel toe. Nyame lag net en sê: "Waar is die ander twee?"

5

Anansi klim terug af aarde toe. Hy dink baie hard en kry weer 'n slim plan. Hy neem 'n kalbas vol water na die boom waar die perdebye nes gemaak het. Hy gooi van die water in die nes, en die res gooi hy oor homself uit. Toe kruip hy onder 'n piesangblaar weg.

6

Hy roep die perdebye: "Dit reën, julle gaan nat word, kom kruip in my kalbas weg, dan kan julle droog bly!" Perdebye hou nie daarvan hou om nat te word nie en is baie bly dat Anansi hulle wil help. Hulle vlieg tot binne-in sy kalbas.

7

Anansi spin gou die kalbas toe. Die perdebye kan nie uitkom nie, maak nie saak hoe hard hulle probeer nie. Hy neem die kalbas met perdebye op hemel toe en sit hulle voor die storiekoning se voete neer. Nyame sê: "Jy kort nog die laaste een." Nyame lag nie meer so lekker nie.

8

Anansi klim terug aarde toe. Hy dink baie hard, maar kry nie 'n slim plan nie. Hy vra sy vrou om hom te help en sy maak 'n slim plan. Anansi en sy vrou gaan na die stroom waar die slang bly. Hulle soek 'n lang tak en begin met mekaar stry. "Die tak is die langste!" "Nee, dit is nie!" "Ja, dit is!"

9

Slang kom uit sy gat uit en vra: "Wat gaan hier aan?" "Ek stry met my vrou!" roep Anansi. "My vrou sê die tak is langer as jy, maar ek dink jy is langer," sê Anansi. "Sit die tak langs my, dan kan ons kyk wie die langste is," sê Slang.

10

Anansi spin Slang teen die tak vas om hom reguit te hou. Toe Slang styf vas is, vat Anansi hom op na die hemel toe. Hy sit die slang voor Nyame se voete neer. Nyame kan dit nie glo nie, hy is baie verbaas.

11

"Jy het die prys betaal, Anansi," sê Nyame. "Jy kan die stories terugkry." Anansi neem al die stories terug af aarde toe waar hy dit vir sy vrou, vir die diere en vir die mense vertel. Onthou, stories is daar om vertel te word, nie om in 'n houtkis gebêre te word nie!

12
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Anansi kry die stories terug
Author - Ane Henderson
Illustration - Wiehan de Jager
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs